Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Vereeniging sien nie kans vir topliga

Die rugbyklub Vereeniging is ondanks sy klinkende welslae in 2019 nog nie gerat om aanstaande seisoen aan die beker-afdeling van die interprovinsiale Volcano-Superliga deel te neem nie, meen Koos Bosman, die voorsitter.

“Ons is baie dankbaar vir en trots op ons welslae in die Volcano-Superliga en die klub sal die sege oor die gedugte span van Klerksdorp in die trofee-eindstryd as een van die groot glanspunte van 2019 aanteken. Dit was Klerksdorp se eerste nederlaag van die seisoen,” sê Bosman.

Vereeniging is ook die 2019-klubkampioen van die Valke nadat hy die kampioenskapskroon in die Peregrine-liga opgeraap het.

Dit is baie interessant dat Vereeniging in die halfeindronde (East Rand United) en eindstryd (Springs, 46-30) met teenstanders afgereken het wat in die Volcano-Superliga se beker-afdeling meegeding het.

Bosman stem saam dat dit ’n pluimpie vir sy klub is dat hy met hoër gegradeerde opponente klaargespeel het, maar Vereeniging sal nie hiermee op loop gaan en in 2020 ’n wilde perd opsaal nie.

“Ons het net nie die diepte of reserwekrag om met die nodige vertroue of vooruitsig van sukses aan die beker-afdeling van die Volcano-Superliga deel te neem nie.

“Ons is ’n gemeenskapklub en ons eerste verantwoordelikheid is om die welsyn van ons spelers voorop te stel. Ons moet hulle reg bestuur en toesien dat hulle nie ooreis word deur in te veel wedstryde te speel nie. En daarom sal ons nie aansoek doen om in 2020 aan die beker-afdeling van die Volcano-Superliga deel te neem nie.

“Dit kon sekerlik ons klub se aansien en markwaarde ’n hupstoot gegee het, maar só ’n besluit sou ten koste van ons kosbaarste bate, ons spelers, gewees het.”

Bosman is baie passievol oor die gemeenskap wat “van Vereeniging die klub maak wat dit is. Hier gee ons nog vir mekaar om en wat die klub se bestuur betref, hou dit nie by die spelers op nie. Ons het ook ’n verantwoordelikheid teenoor hul vrouens, meisies en kinders wat ten minste een naweek in die maand die manne in hul lewens vir hulself moet kan opeis.

“Ons klub se dinamika is deur die feit gevestig dat al ons spelers in Vereeniging of die onmiddellike omgewing woon en werk.

“Vereeniging is dus ’n klub uit die gemeenskap vir die gemeenskap en al sou ons die geld gehad het om ‘buitespelers’ te kon bekostig, sou ons dit eerder in ons eie spelers belê het.”

Bosman is self ’n produk van dié Vaaldriehoekse dorp waar hy skoolgegaan het en nou nog woon.

Sy pa, wyle Piet Bosman, was lank as speler en administrateur by die Vereeniging-rugbyklub betrokke toe dit nog in die destydse Transvaalse Rugby-unie se jurisdiksie geval het.

Vir die Volcano-Superliga het Bosman groot lof omdat “dit Vereeniging die geleentheid gebied het om homself teen ander teenstanders as dié in die Peregrine-liga, teen wie ons jaar ná jaar speel, te meet.

“Daar is hier en daar ’n groeipyn of twee, maar myns insiens het die Volcano-Superliga die potensiaal om ’n Gauteng-kampioenskapsreeks te word.

“Daar moet dus moeite gedoen word om ook die klubs van die Goue Leeus aan boord te kry.”

Meer oor:  Vereeniging  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.