Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Voortrekkermonument veg nou om oorlewing

Die Voortrekkermonument (VTM) en by implikasie die Bloedrivier-erfenisterrein en vele ander monumente landswyd het onlangs hul oorlewingsnood wyd bekend gemaak.

“Hoewel dié noodkreet op sommige sosialemedia-platforms met uiters negatiewe kommentaar begroet is, is die VTM egter oorweldig met die welwillendheid wat verskeie individue en organisasies ten spyte van eie uitdagings, tot dusver aan die dag gelê het,” sê Cecilia Kruger, besturende direkteur.

Die ligte by die Voortrekkermonument kan dalk binnekort permanent afgeskakel word as genoegsame befondsing om bedryfskostes te delg nie bekom word nie.

“Om ’n monument te ‘red’, is nie net ’n geval van inspring, geld insamel en aanbeweeg nie. Natuurlik is fondse lewensnoodsaaklik en daarom wil ons al die individue wat ons onderskeie sosiale en ander veldtogte ondersteun, van harte bedank.”

Kruger sê elke sent is nou belangrik en dat hulle darem genoeg uit verskeie oorde ontvang het om die VTM vir nog ’n maand of twee aan die gang te hou.

“Die bedryfskostes van ’n privaat erfenisterrein soos die VTM is enorm en hoewel alle inkomstes tydens die inperking opgedroog het, het basiese uitgawes nie verminder nie,” sê Kruger.

Die VTM se basiese diensrekening draai elke maand by meer as R120 000. Dan is daar sekuriteitsonkostes van byna R150 000 per maand, wat met die ander kleiner uitgawes die maandelikse rekening na meer as R300 000 opstoot.

Die VTM is reeds sedert 25 Maart vir besoekers gesluit. Besoekers is die monument se hoofbron van inkomste. Daar is gewoonlik gemiddeld enigiets van 150 000 tot 200 000 mense wat die VTM jaarliks besoek.

Die VTM en Erfenisstigting verskaf werk aan net minder as 70 mense. Hierby ingesluit is personeel wat met instandhouding help, toergidse, opvoedkundiges en sekuriteitspersoneel.

Benewens hierdie personeel is daar ook talle mense wat stalletjies by die antiekmarkte of feeste wat deur die jaar aangebied word, bedryf. Baie van hulle het nie ’n ander inkomstebron buiten wat hulle by die VTM verkoop nie.

Harry Havenga sê die VTM se markdae gee hom ’n goeie geleentheid om kontakte op te bou. Voorts meen hy dis die enigste veilige mark in die omgewing en dat hy kan seker wees sy produkte sal daar verkoop.

Die meeste van die monument se geriewe kan eers op vlak 1 van die inperking weer geopen word.

“Geen verhuringsinkomste word tans gegenereer nie terwyl normale instandhouding steeds hoë eise aan die onderhoudspan en die begroting stel,” sê Kruger.

“Een van die groot uitdagings is die basiese regulasies waaraan ons argiefruimtes moet voldoen wat klimaatbeheer betref.”

Die VTM huisves tans onder meer argiefmateriaal van die Nederduitsch Hervormde Kerk, die FAK en die ATKV.

Een van die groot uitdagings is die basiese regulasies waaraan ons argiefruimtes moet voldoen wat klimaatbeheer betref.

“Monumente en museums, slagvelde en gedenktekens kan op sigself nie hul eie inkomste genereer nie en toerisme het die afgelope aantal jare ’n belangrike befondsingsvoertuig vir hulle geword,” sê Kruger. “Nou moet alternatiewe gesoek word.

“Die venynigheid op sosiale media is seker te verstane gegewe die enorme oorlewingskrisis waarin ons almal gedompel is, maar dit is wel ’n ontnugtering om te besef hoe diep die onkunde oor die waarde en rol van monumente in ons samelewing loop. Dit is ’n debat vir ’n ander dag en sou waarskynlik temas insluit soos die belangrikheid van kulturele identiteit, gebreke in ons skoolleerprogramme en ’n algemene afwesigheid van nasietrots.”

Om ’n monument te red, meen Kruger, gaan oor veel meer as net geld.

“Om ’n monument te red word fondse beslis benodig, maar dit behels ook ongelukkig ’n langer proses wat by opvoeding en verskaffing van inligting begin,” sê sy. “Wanneer die uniekheid van ons geskiedenis en erfenis eers deeglik besef word, sal daar moontlik meer respek wees en sal die kommentaar op sosiale media moontlik meer ingelig en minder venynig wees. En dan sal harte hopelik meer ontvanklik wees vir noodkrete soos hierdie.”

  • Intussen het die FAK aangekondig dat ’n virtuele konsert, waar die VTM se vooraansig as grootskerm gebruik sal word, op 16 Junie gehou word om geld vir die voortbestaan van Afrikaanse monumente in te samel. Dit sal die eerste konsert in die Hier staan ons-konsertreeks wees wat aanlyn aangebied sal word. Jak de Priester sal die gasheer wees, met Steve Hofmeyr as die gaskunstenaar vir die eerste konsert.

Kaartjies kos R50 stuk en is op plankton.mobi beskikbaar.

Meer oor:  Voortrekkermonument
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.