Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
Area sonder krag weens hofgeding

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit (ELM) slaan vure dood nadat sy inwoners toenemend oor probleme met hul kragmeters kla.

Die nuutste kragprobleme in Emfuleni is volgens die munisipaliteit die nadraai van ’n sloerende hofsaak tussen hom en ’n sakeonderneming wat in 2013 aangestel is om tienduisende krag- en watermeters te installeer.

Die ELM het in ’n onlangse mediaverklaring gesê hy is “genoodsaak om die feite te verskaf omdat die klagtes (oor die foutiewe kragmeters) deur waninligting gekenmerk is”.

Hy moes glo inderhaas ’n plan maak om krag aan die geaffekteerde verbruikers te verskaf nadat die maatskappy wat die kragmeters verskaf het, einde Maart hul kontrak beëindig het.

Dit is om dié rede dat die munisipaliteit “in die tussentyd die meters omseil het en die inwoners op grond van hul aangetekende verbruikersprofiele gefaktureer het”, lui die verklaring.

“Die ELM is nie in staat om sonder die inligting wat BXC SA het met die kragmeters te werk nie. Die inligting is nie met die ELM gedeel nie.”

Die munisipaliteit sê hy het in Desember 2013 ’n kontrak met die maatskappy BXC SA aangegaan om sowat 70 000 kragmeters en meer as 80 000 watermeters te installeer.

“Sowat 7 000 kragmeters is tot op hede geïnstalleer, maar BXC SA het nog geen watermeters geïnstalleer nie.

“Die ouditeur-generaal het verlede jaar kommer oor die onreëlmatighede in die kontrak uitgespreek en die munisipaliteit het onmiddellik regsmening oor die kontrak ingewin,” het Stanley Gaba, munisipale woordvoerder, aan Metro-Beeld-Suid gesê.

“BXC SA het op hul eie – voordat die regsfirma se ondersoek afgehandel is – besluit om regstappe te doen om die geld te verhaal wat die ELM hom glo geskuld het.”

Die munisipaliteit het die aansoek teengestaan en glo intussen ’n tenderproses begin om ’n nuwe verskaffer aan te stel.

Die ELM sê hy het beoog om teen einde 2018 ’n verskaffer aan te stel, maar BXC SA het ’n dringende hofaansoek gebring om hom te verhinder om met die tenderproses voort te gaan voordat die hof ’n beslissing oor sy oorspronklike aansoek teen die munisipaliteit gemaak het.

Nadat BXC SA vanjaar die aanvanklike aansoek teruggetrek het, het die ELM hom tot die hooggeregshof in Pretoria gewend om die kontrak weens die onreëlmatighede tersyde te laat stel.

“Die ELM meen die hof moet ’n beslissing oor die saak maak. BXC SA het egter besluit om die kontrak te beëindig terwyl die hofsaak nog hangende was.”

Talle inwoners het op Facebook gekla omdat hulle vir dae en in sommige gevalle selfs maande lank sonder krag sit.

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die VF Plus het ook stem dik gemaak.

“Die streek het nie meer die ELM in sy huidige gedaante nodig nie. Hy veroorsaak meer skade as enigiets anders,” skryf Andries Visagie, ’n lid van AfriForum in Vanderbijlpark, op Facebook.

Visagie skryf daar is ’n klein sakeonderneming wat weens ’n probleem met sy slimmeter vir vier dae sonder krag gesit het.

Shaun Elliott het verlede Woensdag op Facebook geskryf hy het vir drie en ’n half maande geen krag gehad nie. “Twee elektrisiëns het bevestig dat dit ’n foutiewe kabel van die munisipaliteit was,” skryf Elliott.

“Nadat ek verskillende departemente verskeie kere besoek het en die heeltyd moes bewys dat my rekening op datum is, het hulle die kabel reggemaak.”

Magriet Vorster van Vanderbijlpark het Woensdag geskryf sy is al vier dae sonder krag, al is haar rekening op datum.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.