Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
Nuwe hoof al 27 jaar by Oosterlig

Hoewel Francois Nel (52) vroeër vandeesmaand eers die kantoor van die skoolhoof van die Hoërskool Oosterlig in Boksburg betrek het, is hy ’n ou bekende by die skool.

Om presies te wees, hy is een van die stigterslede en was die afgelope 16 jaar die adjunkhoof.

“Die skool is nou 26 jaar oud. Dit was altyd die Hoër Handelskool Boksburg,” vertel Nel tydens ’n onderhoud met Metro-Beeld-Suid.

Francois Nel, skoolhoof van die Hoërskool Oosterlig in Boksburg, tydens ’n onderhoud met Metro-Beeld-Suid. Foto’s: JEANELLE GREYLING

“Ek het meer as 27 jaar gelede as jong rekeningkundeonderwyser by die skool begin.

“Dit was toe oorwegend ’n meisieskool, maar al hoe meer seuns het by die skool ingeskryf nadat Oosterlig gestig is. Ons het nou amper soveel seuns as meisies in die skool.”

Nel neem sedert April as skoolhoof waar.

Pieda van Vreden, wat 16 jaar lank die skoolhoof was, het einde Maart afgetree.

“Ek is van toe af ’n bietjie meer onrustig in die aande, want daar is soveel meer verantwoordelikhede op ’n ou se skouers en soveel meer belangegroepe wat insae in jou werk het.”

Hy gee ook steeds rekening-kunde.

“Ek probeer nie kwaai wees nie, want dan maak jy te veel deure toe. Kinders hou deesdae van ’n meer toeganklike onderwyser,” sê hy.

“Die persepsie is dat syfers vervelig is, so jou uitdaging is om dit op so ’n manier aan te bied dat die syfervak lewendig is.”

Nel het die skool se heel eerste krieketspan en die heel eerste rugbyspan afgerig – iets wat hy as hoogtepunte van sy loopbaan beskou.

“Dit was lekker om betrokke te wees by die eerste sport waaraan seuns deelgeneem het.”

Nel vertel van die hoogte-punte in sy loopbaan.

Dit is ook lekker om te sien hoe goed die skool se akademie is en dat Oosterlig voortdurend groei en nou met meer as 1 000 leerlinge spog.

Hy sê hy is baie lief vir die skool en die leerlinge.

“Die skool se beleid is dat ons gelukkige, gebalanseerde kinders wil hê. Akademie is ons eerste prioriteit, maar om ’n balans te hê, moet jy kultuur en sport kan doen.

“Die deelname en prestasie moet egter nog pret wees. Dit help nie jy presteer, maar jy is nie gelukkig nie.”

Nel sê hy het as BCom-student in rekeningkunde aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) nooit gedink hy sou ’n onderwyser word nie.

“Die voordeel met onderwys was dat hulle vir jou ’n aanvullende salaris tot jou weermagsalaris gegee het as jy jou diensplig gedoen het.

“Ek het ’n vierjaarbeurs gehad en ná die BCom my nagraadse diploma in hoër onderwys gedoen. Terwyl ek vir ’n jaar en ’n half in die weermag was, het ek ’n onderwyssalaris ontvang.

“Die plan was om ná die diensplig net twee en ’n half jaar van die beurs terug te werk, maar toe geniet ek die onderwys te veel.

“Ek het besef dis absoluut my passie en my roeping en dat dit beter is om iets te doen waarvan jy hou as om jouself in ’n beroep te bevind waarvan jy nie hou nie.”

Sy vrou, Sonja (52), en twee dogters, Simoné Scheepers (25) en Françoise (19), is glo baie trots op hul pa, wat nou as die hoof van hul alma mater aangestel is.

Sonja is bemarkingsdirekteur by PWC, Simoné is ’n oudioloog en Françoise studeer onderwys aan die Universiteit van Pretoria.

“Françoise wil nou net hoor of sy meer sakgeld kan kry,” skerts Nel.

Francois Nel, die nuwe skoolhoof van die Hoërskool Oosterlig in Boksburg poseer by die skool se wapen.
Meer oor:  Hoërskool Oosterlig  |  Boksburg  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.