Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
Suid-Gautengse TV-sterre wil jonges motiveer

Vier uit die 12 jong vroue wat op ’n splinternuwe realiteitsreeks op TV te sien is, is Suid-Gautengers.

Jenine Grobler (24) van Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek en die twee Oos-Randers Colleen Fourie (28) van Benoni en Nonkululeko Indlovukazi (21) van Kempton Park verskyn almal op Maandagaande op Ster-Status op Via.

Boonop is die Pretorianer Alicia du Preez (26) oorspronklik van Vereeniging.

Jenine GroblerFoto:’s MARILIZE COETZEE PHOTOGRAPHY
Nonkululeko Indlovukazi

“Die televisieprogram is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en fokus daarop om vroue tussen 20 en 35 aan die vermaakbedryf bekend te stel,” lui ’n mediaverklaring van die program.

Die vroue moes tydens die opname verskeie slypskole bywoon en talle uitdagings oorkom om hulle op ’n suksesvolle lewe in die kollig voor te berei.

Jaenette Jacobs (32), ’n gesondheids- en verkoopsbestuurder van Pretoria, is onlangs by die Atterbury-teater in Pretoria as die kompetisiewenner aangewys.

Sy kry nou die geleentheid om haar kolligdrome plaaslik en internasionaal in New York, Amerika, te verwesenlik.

Sy het ook met onder meer skoonheidsprodukte en ’n toneelspelkursus weggestap.

Grobler, wat reeds as Anastasia in die televisiereeks Getroud met rugby te sien is, was die naaswenner. Sy het ook die beste portefeulje gehad.

Alicia du Preez
Colleen Fourie

Du Preez, ’n dieetkundige, is as die wenner van die afdeling vir liefdadigheid aangewys. Sy het ook die debutant-afdeling gewen.

Indlovukazi, versekeringsmakelaar en gesertifiseerde eiendomsagent, is as die SterAmbassadeur aangewys.

Grobler sê die kompetisie was ’n geleentheid om haarself uit te daag en nuwe dinge te leer.

“Ek wil nou jong meisies, veral dié van klein dorpies, motiveer om groot drome na te streef, al lyk dit onmoontlik.”

Ook Indlovukazi wil dié platform benut om jong mense te inspireer.

“Dit voel werklik of ek fisiek en emosioneel gereed is om ’n merkwaardige verskil te maak,” sê sy.

Sy het die stigting IziNdlovukazi begin om jong meisies te bemagtig.

Mishandeling is veral vir Indlovukazi, wat self ’n slagoffer van seksuele mishandeling was, ’n kwessie na aan die hart.

Sy is by die Womb Foundation betrokke, waar sy vroue ondersteun wat reeds deur verskeie tipes mishandelings is.

Du Preez sê sy wil mense motiveer deur haar stories en uitdagings wat sy moes oorkom.

Fourie, ’n verkoopskonsultant, sê haar fokus was tydens die kompetisie om alles in te neem en te geniet. “Ek het besef dit nie gaan oor waar ek eindig nie, maar eerder oor hoeveel ek gegroei het,” sê sy.

  • Ster-Status word tot 9 September op Via (kanaal 147 op DStv) uitgesaai.
Meer oor:  Via  |  Ster-Status  |  Realiteitsreeks  |  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.