Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
Terugblik: Chinese se lang pad met Suid-Afrika

In die jongste tyd is Suid-Afrikaners al hoe meer bewus van toenemende getalle Chinese in die land wie se invloed nie gering is nie. En tog het die Chinese ’n lang verbintenis met ons.

Prof. Karen Harris van Tukkies is die ekspert oor die geskiedenis van die Chinese in Suid-Afrika. Die eerstes het reeds in die tweede helfte van die 17de eeu vanuit die vasteland van China in die Kaap aangekom. Hulle was smouse wat vis en varsprodukte verkoop het. Hulle was nooit meer as 350 in getal nie.

Wit en Chinese mynwerkers ondergronds aan die Witwatersrand aan die begin van die 20ste eeu.

’n Volgende golf het in die middel van die 19de eeu as deel van ’n wêreldwye diaspora in Suid-Afrika aangekom. Hulle het veral Kimberley en Johannesburg vir hul mynbou en nywerhede uitgekies. Aan die begin van die 20ste eeu was daar ’n duisend plus vry Chinese in die Johannesburgse omgewing.

Ná die Anglo-Boereoorlog het die Britse koloniale regering toegelaat dat Chinese kontrakarbeiders vir die goudmyne gewerf kon word om die arbeidsprobleme te verlig. Tussen 1904 en 1910 is byna 64 000 ongeskoolde Chinese kontrakarbeiders vir die goudmyne gewerf. Ná hul driejaarkontrakte moes hulle na China terugkeer.

’n Xenofobiese teenkanting het die Cape Chinese Exclusion Act van 1904 tot gevolg gehad. Twee jaar later het die Transvaalse regering die “Black Act” aanvaar ingevolge waarvan alle Asiate moes herregistreer. Onder leiding van Leung Quinn het die Chinese ’n veldtog van passiewe verset van stapel gestuur – soortgelyk aan maar afsonderlik van die passiewe verset van die Indiese leier Mahatma Gandhi.

Ná Uniewording in 1910 is Chinese ingevolge immigrasiewetgewing in 1913 as “verbode immigrante” geklassifiseer. Dit het uiteraard hulle getalle laat afneem. Teen die middel van die 20ste eeu was daar slegs sowat 7 000 Chinese in die land.

Met die Nasionale Party sedert 1948 aan bewind is Chinese volgens die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 as ’n subgroep van die sogenaamde kleurlingbevolking geklassifiseer. Onder apartheidswetgewing is hulle as ’n nieblankegroep beskou. ’n Groepsgebied, Kabegapark, is in die Oos-Kaap aan hulle toegeken.

Maar tye verander, en soos wat die apartheidsregering se handelsbetrekkinge met die Republiek van China (die eiland Taiwan) verstewig het, het Suid-Afrikaanse Chinese geleidelik sekere toegewings gekry. Hul kinders kon met amptelike toestemming na wit skole gaan, en hulle kon toestemming kry om in sekere wit woonbuurte te bly.

Hoewel Chinese in 1994 vir die eerste keer kon stem, is daar ook in die nuwe Suid-Afrika met die Wet op Gelyke Indiensneming van 1998 en aanverwante wette, teen hulle gediskrimineer. Hulle kon dus nie by regstellende aksie baat nie. Eers in Junie 2008 het die konstitusionele hof bevind dat Chinese wel as ’n voorheen benadeelde groep geklassifiseer kan word en hulle dus voordeel uit regstellende aksie mag trek. Maar, soos talle bruin mense ervaar, bevind hulle hul op die rand van die Suid-Afrikaanse samelewing in die tussenruimtes tussen wit en swart. En net as ek dink ek het alles gehoor, dan onthou ek daar was 12 jaar gelede ’n puik Chinese gholfspelertjie saam met my seuns in ’n Afrikaanse seunskool oorkant Loftus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.