Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
Terugblik: Onwaarskynlike, onbesonge held

’n Verhaal wat ’n glimlag van bewondering ontlok, kom uit The Star van 30 Oktober 1930 – van ’n ou Boer wat vir ’n tydjie die Britte se moses was. Adam Kennedy, lid van die Highland Light Infantry-bataljon in die Anglo-Boereoorlog, beskryf daarin ’n roerende verhaal waarvan die opskrif lees: “Outstanding incident of South African War”.

Kennedy vertel sy bataljon en ’n Engelse bataljon (dit moes die Lovat’s Scouts gewees het) was teen die einde van Julie 1900 deel van die Britse omsingeling van die Vrystaatse mag onder Marthinus Prinsloo in die Brandwaterkom. Op 23 Julie het hulle ’n vastrapplek op die laer uitlopers van Retiefsnek verower, die nek wat vanaf Bethlehem toegang tot die Brandwaterkom verleen.

Die oorgawe van die Vrystaters onder Marthinus Prinsloo in die Brandwaterkom, 30 Julie 1900, waarvan die 80-jarige sluipskutter een was. (Foto: H.W. Wilson,After Pretoria: The Guerilla War, Vol. I)

Om drie-uur die volgende môre het twee kompanies van die Highland Light Infantry bevel gekry om links bo die nek stelling in te neem ten einde deurgang deur die nek te dwing. Teen dagbreek het hulle die voet van die nek bereik en teen die steiltes begin uitklim.

Halfpad boontoe het ’n sluipskutter hulle egter skielik van agter met sy geweer begin bestook. Dit was ’n verrassing, want reg rondom die plek vanwaar die skote gekom het, was daar al Britse troepe. Volgens die klank was dit ’n Martini-Henry-geweer.

Verskeie soldate is getref, en hulle is met groot moeite verwyder. Bo-op die berg gekom, is die Highland Light Infantry beveel om dekking te vind en die posisie van die sluipskutter te bepaal. Maar vanweë die eggo van sy geweerskote tussen rotse, kon hulle nie sy posisie vasstel nie. Ten spyte van hewige geweervuur in sy rigting, het die skutter met ’n tempterende vuur volgehou. Elke nou en dan het ’n Brit neergesyg.

’n Korporaal en drie manskappe, waaronder Kennedy, het opdrag gekry om die sluipskutter te gaan stilmaak. Onder groot gevaar het hulle die omgewing van die man bereik, en uiteindelik, op aanhoor van sy skote, hom opgespoor, omsingel en krygsgevange geneem.

Tot hul verbasing het daar ’n ou Boer van 80 jaar voor hulle gestaan. Sy Martini-Henry was van die vroegste soort, en hy het omtrent helfte van sy 300 tuisgemaakte patrone op hulle weggeskiet. Kennedy het sy bandelier afgevat – “of the Voortrekker type, home made from buck skin”. Hy het dit later aan F.W. FitzSimons, direkteur van die Port Elizabethse museum, gegee.

Sy gevangenemers was vol bewondering vir die ou Boer se optrede, waar hy verkies het om in sy posisie te bly, omring deur die vyand, eerder as om saam met die Boere na die binnekant van Retiefsnek te gaan. Hy moes minstens twee dae daar vertoef het. Hy het geen waterfles by hom gehad nie, net droë mielies in ’n knapsak. In die voorafgaande week was daar swaar sneeu-neerslae; hy was sonder jas of kombers. Met bewondering sluit Kennedy af: Hy was ’n ware kryger wat geen Victoria Cross sou kry nie. Sy optrede was eenvoudig ongedokumenteerd in Boereverslae. Inderdaad die Britte se moses.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.