Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
Terugblik: Oom Claude de Villiers se trauma

In my omswerwinge agter die Anglo-Boereoorlog-geskiedenis aan het ek al met verwondering kennis geneem van aangrypende en traumatiese ervarings.

Oom Claude de Villiers het aangedui dat die byskrif van hierdie foto in P.H.S. van Zyl se Helde-album foutief is. Van Zyl ruil genl. Jan Crowther en kmdt. P.H. de Villiers om – na regte is De Villiers regs op die foto, nie links nie. In die middel is kmdt. Gerrie van der Merwe.

In 1979 word ek deur SAUK-TV opgekommandeer om uitsluitsel te gee. In ’n TV-dokumentêr oor ons krygsgeskiedenis het die kommentator na die oorgawe van 4 314 Vrystaters in die Brandwaterkom in Julie 1900 verwys. Met sy woorde: “Toe gee genl. Prinsloo oor,” verskyn daar toe blykbaar ’n foto van kmdt. Hendrik Prinsloo van die Carolina-kommando op die skerm, pleks van genl. Marthinus Prinsloo van die Vrystaat. Die Prinsloo-nasate van Carolina is boos. “Kom klaar die probleem op!” versoek SAUK-TV.

Op TV verduidelik ek toe dat dit inderdaad ’n flater was – die foto is van Hendrik Prinsloo, een van die helde van Spioenkop. Met 85 Carolina-burgers het hy die oggend van 24 Januarie 1900 op bevel van genl. Louis Botha opgestorm om die Britte wat hulle in die nag op Spioenkop ingegrawe het, loodpille te laat sluk.

Onder hewige Britse kanon- en geweervuur het Prinsloo met die heliografis Louis Bothma aan sy sy, instruksies gegee aan die Boere-artillerie oor presies waar die Britse posisies was.

Dit was belangrik want Boer en Brit het bo-op Spioenkop enkele meter van mekaar gelê en veg – ’n misplaaste kanonskoot kon die burgers tref.

Genl. Marthinus Prinsloo was egter ’n ander ene. Op 61 was hy oorlogsmoeg. Dit het hy bewys deur sy halfhartige optrede aan die Natalse front.

Einde Julie 1900 is hy in die Brandwaterkom suid van Bethlehem vasgekeer en het hy met 4 314 man aan genl. Hunter oorgegee – 300 man meer as genl. Cronjé by Paardeberg.

Jare lank is Prinsloo en die offisiere onder hom deur mede-Afrikaners vir verraaiers uitgekryt, ook deur genl. De Wet.

Die proses waardeur Prinsloo tot bevelvoerder in die Brandwaterkom verkies is, was verdag; oudkmdt. Fanie Vilonel, wat deur ’n Vrystaatse krygsraad tot gevangenisstraf gevonnis is vir sy heulery met die vyand, het as tussenganger tussen Prinsloo en Hunter gedien; en, terwyl die res van die offisiere en burgers as krygsgevangenes na Ceylon gestuur is, is Prinsloo in relatiewe gerief in Simonstad aangehou.

Op TV voeg ek egter by ek byt nie aan die verraad-storie nie – dit was plein ’n onbevoegde Prinsloo wat sy offisiere en burgers gemesmeraais het.

Kort ná my TV-verduideliking kry ek van ’n oubaas ’n telefoonoproep: “Kom sien my, asseblief!”

Die 93-jarige oom Claude de Villiers woon toe ’n blok van Melrose-huis, die Britse hoofkwartier tydens die Prinsloo-oorgawe. Hy val my emosioneel om die hals: “Jy het op TV – vir almal om kennis te neem – gesê my pa was nie ’n verraaier nie!”

Dit blyk toe dat oom Claude ’n seun van 14 was toe sy pa, kmdt. P.H. de Villiers, onder Prinsloo oorgegee het – en 79 jaar lank het hy met daardie skaduwee van skaamte saamgeleef en hier sê iemand op TV dat hy verlos is van daardie nagmerrie-beeld.

Wat wonderlik is, is dat oom Claude eers op 107 oorlede is – 14 onskuldige jare as kind, 79 jaar van trauma-skaamte, en toe 14 goue jare van verlossing.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Fransjohan Pretorius
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.