Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
Terugblik: Trein vol dinamiet ontplof in Jhb

Op 19 Februarie 1896 het ’n reuse-ramp die jong goudstad Johannesburg getref. Dit was toe ’n rangeertrein op Modderfonteinstasie tien treintrokke getref het wat gelaai was met 2 214 kiste dinamiet, wat elk sowat 23 kg ontplofbare gelatien bevat het. Ons praat van tussen 56 en 60 ton dinamiet. ’n Ontsaglike ontploffing het gevolg.

Op Saterdag 15 Februarie het Eduard Lippert, agent vir die Zuid-Afrikaanse Fabrieken voor Ontplofbare Stoffen, kennis gekry dat hy die Maandag die dinamiet op Braamfonteinstasie moet ontvang. ’n Geskil tussen Lippert en die Spoorwegbesteldienste het beteken dat die dinamiet nog twee dae langer in die trokke in die son moes bak. Die aflaai-proses het eers Woensdag 19 Februarie begin. Die trokke met dinamiet het op ’n sylyn sowat 400 meter suidwes van die huidige Braamfonteinstasie gestaan. Weens nalatigheid was die spoorwegwissel na die verkeerde kant toe oorgeslaan. Toe tref die rangeertrein die dinamiettrokke.

Die gat in die grond wat deur die dinamietontploffing op 19 Februarie 1896 by Braamfonteinstasie veroorsaak is. Foto: Transvaalse Argiefbewaarplek

Die ontploffing het ’n reuse-gat in die grond, sowat 80 meter lank, 20 meter wyd en 10 meter diep, uitgeruk. Van die spoorwegtrokke het verwronge metaal oorgebly. Verskrikte inwoners van Johannesburg het ’n rookwolk soos ’n paddastoel die lug in sien trek. Alle weste-vensters van geboue is uitgeruk. Dit wek geen verbasing nie dat sommige mense gedink het dis die oordeelsdag! In die hofgebou het die elektriese ligte losgebreek en die hof met stof gevul, waarna regter De Korte volgens The Star “made an undignified descent from the bench, and the court was in a moment cleared”.

The Star het ook berig: “The scene was one of horror and desolation . . . The sight turned one sick. Every few yards one came across a reverent little circle of people standing round someth­ing on the ground . . . Hundreds of houses have been wrecked.”

Die Afrikanergemeenskappe van Fordsburg, Braamfontein en Vrededorp en die Indiër- en Maleierbuurte naaste aan die toneel het die ergste deurgeloop.

Talle huise, wat hoofsaaklik sinkgeboutjies was, is in puin gelê.

Oral het mense onder die puin na naasbestaandes gesoek. Dit was die polisie se weersinwekkende taak om lyke en liggaamsdele te versamel.

Met meer as 200 beseerdes was die hospitaal gou vol en is ’n tydelike hospitaal in die Wanderersontspanningsaal ingerig. ’n Week ná die ontploffing het die dodetal 56 wit mense beloop (15 mans, 20 vroue en 21 kinders), 11 swart mense, twee Indiërs, twee Chinese en een bruin man. Daar was vier kiste met onidentifiseerbare liggaamsreste.

Tydens sy besoek aan die ramptoneel het pres. Kruger net stilweg gestaar. By die hospitaal het hy sy emosies met moeite bedwing.

’n Dinamietramp-bystandskomitee het spoedig £126 400 ingesamel.

’n Kommissie van ondersoek onder leiding van J.S. Smit, kommissaris van die spoorweë, het die onbevredigende gevolgtrekking gemaak dat dit onduidelik was wat die regstreekse oorsaak van die ontploffing was. Daar is bevind dat die gesamentlike of afsonderlike nalatigheid van die Nederlands Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij, die Spoorwegbesteldienste en die Z.A. Fabrieken voor Ontplofbare Stoffen onregstreeks tot die ontploffing bygedra het.

Met die bystandfonds is nuwe huise opgerig, maar leë stoele aan greinhouttafels het van groot smart getuig.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Ontploffing  |  Trein  |  Rubriek  |  Terugblik  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.