Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
TERUGBLIK: Waterbeperkings in Pretoria

Watervoorsiening is so oud soos die berge. Die Romeinse akwadukte van 2 000 jaar gelede is indrukwekkende getuienis daarvan. Waterbeperkings is self ou nuus. Pretoria het ook ’n skoot daarvan weg.

Nadat Pretoria op 5 Junie 1900 deur lord Roberts tydens die Anglo-Boereoorlog ingeneem is, het hy maatreëls getref om ’n militêre administrasie daar te stel. Dit is beskou as ’n belangrike stap in die proses om die Boererepublieke in Britse kolonies te omskep.

Ná hewige reën kan die Apiesrivier in Pretoria vir ’n watermassa sorg. Dié foto is in Desember 1897 geneem. Foto: Uit: Pretoriana, Apr. 1962

Verder is daar geglo dat die tweede stadium – die daarstelling van ’n siviele administrasie op dieselfde basis as ’n Britse kroonkolonie – sou volg sodra die Boere se weerstand verdwyn het.

Generaal-majoor J.G. Maxwell is as militêre goewerneur van Pretoria aangestel. Dit was sy taak om maatreëls te tref wat tot heil van die inwoners van die besette gebied sou wees. In hierdie opsig bied die Government Gazette van die betrokke tydperk insiggewende leesstof. Wat onmiddellik opval, is die klem wat daar op waterbeperkings gelê is.

So blyk dit dan uit die Government Gazette van 22 Augustus 1900 dat Maxwell vanweë die behoeftes van die hospitale en die Britse troepe ’n tydelike maatreël getref het om die gebruik van water binne die munisipale grense van Pretoria te beheer.

Pretoria het sy water uit die Apiesrivier gekry wat vanaf die Fonteinedal in die suide deur die dorp vloei. Water is vanaf ’n inlaatplek, sowat 3 kilometer ver, al langs Markstraat (tans Paul Krugerstraat) deur middel van ’n pyp vervoer.

Volgens Maxwell se regulasie, getiteld “Water Supply”, is eerstens bepaal dat die natlei van tuine “by leading the water from open taps, or by hose not held in the hand”, verbied word.

Tweedens kon die natlei van tuine slegs geskied deur middel van ’n gieter, ’n tuinslang wat in die hand gehou moes word, of ’n sproeier. Outomatiese sproeiers moes slegs tussen 06:00 en 07:00 gebruik word.

Die gebruik van alle fonteine is verbied, en defekte krane of lekkasies moes onmiddellik gerapporteer word. Dit sou op onkoste van die verbruiker herstel word.

Alle natlei van tuine in Pretoria-dorp self is tussen 06:00 en 18:00 verbied. So ook in die woonbuurte Sunnyside en Arcadia.

Laastens is bepaal dat enige persoon wat genoemde regulasies oortree, op skuldigbevinding aanspreeklik sou wees vir ’n boete van nie meer as £10 nie, of, om by versuim van betaling, tronkstraf uit te dien, met of sonder harde arbeid, vir ’n tydperk van nie langer as een maand nie.

Intussen het dit jolig gegaan in die openbare baddens in die middedorp. In die Pretoria Friend van 29 Junie 1900 onder die opskrif “Baths! Baths! Baths!” lees ons:

At the baths in Vermeulen Street (behind the stores of Messers. Beckett & Co. Ltd.) you can have a WARM BATH, SHOWER or a SWIM in as fine a bath as any in South Africa.

Genoeg om Maxwell tot trane te dryf. Solank hy net nie daardie trane stort nie, want jy mag nie water mors nie.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Pretoria  |  Waterbeperkings  |  Rubriek  |  Terugblik  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.