Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Suid
Van Krugersdorp na Botswana vir kanker

Willem Dercksen (30), ’n biokinetikus van Johannesburg, sal eersdaags 280 km met sy fiets aflê om geld vir pasiënte met borskanker in te samel.

Hy trek op 2 Augustus in Krugersdorp weg en sal binne drie dae by Botswana se grens aankom.

Dercksen, wat in Linden praktiseer, vertel hy was diep geraak toe verskeie van sy pasiënte met borskanker gediagnoseer is.

“Nadat my vriend se ma boonop in Maart vanjaar aan borskanker oorlede is, het ek gedink ek wil aktief betrokke raak om mense soos sy te help,” sê Dercksen.

Aangesien hy die rit oor slegs drie dae gaan aflê, sal hy elke dag tussen 90 km en 100 km moet ry.

Hy slaap die eerste aand in Koster, Noordwes, oor.

Van daar ry hy na Lichtenburg, waar hy die tweede aand sal oorslaap.

Dercksen beplan om die Rama­tlabama-grenspos op 4 Augustus te bereik.

Hy sê die grootste afstand wat hy tot dusver op een slag afgelê het, was 30 km.

“Ek oefen deesdae by die Wieg van die Mensdom aan die Wes-Rand om die langer afstande af te lê,” sê Dercksen. “Daar is ’n groot fietsrygemeenskap wat elke naweek in die gebied fiets ry.”

Hy oefen ook in die week by sy werk op ’n oefenfiets om fiks te bly.

“Ek doen ook baie fietsryverwante oefeninge by die huis om die spesifieke spiergroepe sterk te maak. Dit help dat ek ’n biokinetikus is.”

Dercksen wil deur dié rit R100 000 insamel wat hy aan die Kankervereniging van Suid-Afrika sal oorhandig om aan hulpbehoewende pasiënte te gee.

“Met die geld wat ek insamel, wil ek soveel mense moontlik finansieel bystaan,” sê Dercksen.

Willem Dercksen met sy fiets.
    Meer oor:  Geldinsameling  |  Fietsry  |  Kanker
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Kontak Beeld Kontak ons
    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.