Nuus
FAK vereer Jaap Steyn

PROF. JAAP STEYN is op die FAK se prestige-aand met die gesogte NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van die Afrikaanse taal vereer.

Volgens die FAK “is hy die voorbeeld van die beiteltjie in NP van Wyk Louw se gedig waar ‘n klein klein beiteltjie, blink en geslyp, eers ‘n klippie, dan ‘n rots en dan die planeet kloof sodat hy op ’n dag sien hoe die nag daar anderkant oopgaan met ‘n bars wat van sy beitel af dwarsdeur die sterre loop.”

Jacob Cornelius (Jaap) Steyn is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara, Fouriesburg, gebore. Hy het daar en op die plaas Omdraai-Noord, distrik Petrus Steyn, grootgeword en was tot st. 5 (gr. 7) by ’n plaasskool op Omdraai-Suid.

Hy het aan die J.A. Malherbe-hoërskool, Petrus Steyn, gematrikuleer. Daarna is hy na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), waar hy die BA-graad met onderskeidings in die hoofvakke Afrikaans, Nederlands en Duits behaal het. Sy BA-honneurs en MA in Afrikaans en Nederlands (albei met lof) het hy deur deeltydse studie aan die UOVS verwerf terwyl hy van 1959 tot 1964 in diens van Die Volksblad was.

Van September 1964 tot Desember 1967 het hy aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer en het in 1966 cum laude die doktoraal-eksamen in algemene taalwetenskap geslaag, met Nederlandse en Sesotho-taalkunde as byvakke. Die doktorsgraad in algemene taalwetenskap verwerf hy in 1969 aan die Universiteit van Port Elizabeth.

Steyn se digbundel, Die grammatika van liefhê, het in 1975 by Tafelberg-uitgewers verskyn en is bekroon met die Eugène Maraisprys van die Suid-Afrikaanse Akademie en die Ingrid Jonkerprys. Hy het talle prosawerke die lig laat sien.

’n Werk wat baie publisiteit geniet het, is die taalpolitieke boek, Tuiste in eie taal (1980). Die boek is bekroon met die Recht Malan- en die Louis Luytprys.

Trouwe Afrikaners: Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek (1987) is ’n taalhistoriese werk wat in 1988 met die C.J. Langenhovenprys vir taalkunde bekroon is.

In 1993 is Steyn genader om ’n biografie van N.P. van Wyk Louw te skryf. Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal is bekroon met die Suid-Afrikaanse Akademie se Stals-prys vir geskiedwetenskappe, die Recht Malan- en Insigpryse van onderskeidelik die Nasionale Boekhandel en die tydskrif Insig.

In 2000 het die Suid-Afrikaanse Akademie die N.P. van Wyk Louw-medalje aan Steyn toegeken vir buitengewone prestasie van volgehoue aard op die gebied van die geesteswetenskappe.

In 2011 het Jaap Steyn begin om die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans sedert die einde van die negentiende eeu te skryf. Dit het in 2014 by Kraal-uitgewers onder die titel, Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare, verskyn.

Met die nodige piëteit aan ons voormense beklemtoon Steyn die onbaatsugtige rol van Jan en Alleman wat so energiek saamgewerk het aan hierdie ideaal, nie tyd en moeite ontsien het nie, en soms beduidende uitgawes aangegaan het om hul droom oor Afrikaans waar te maak. Hulle het die “elektrisiteit” van Afrikaans ervaar, soos Steyn dit noem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Volg Bloemnuus