Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Paradys aan oewer van die Oranjerivier
Die pragtige ysterbrug suid van Luckhoff strek oor die Oranjerivier. Foto’s: Jens Friis

OP aandrang van my geskiedenis-honger seun, Ian, is ons op pad na Orania in die Noord-Kaap – die eerste bestemming in ’n reisprojek. Ons wil klein plekkies in die binneland besoek.

Van Bloemfontein neem ons die R48 wat ons verby Koffiefontein lei. Later draai ons af op die R369 na Orania. My lens is gemik op die plesier wat Orania jou kan bied.

Ons mikpunt: die Hotel Aan-die-Oewer reg langs die majestueuse Oranjerivier.

Met ons soektog na die oord, ry ons straat op en straat af en kry sommer ’n idee van hoe die mense hier leef. Daar word baie gepraat en geskryf oor Orania, maar wat is hier vir besoekers om te doen?

Daar hang ’n atmosfeer van vrede in die lug. Die dorp is skoon. Kinders speel uitgelate. ’n Paar jaag met fietse in die strate en perde wei rustig in hul kampie. Ons vra aanwysings by Johan Viljoen, ’n vriendelike plaaswerker, en ry dan tot by die ingang van die oord.

Die personeel van die hotel ontvang ons professioneel en wys ons na ons huisie. In die verbyloop sien ek huisies met die oulikste name, soos Noem-noem en ander veldplantjies. Later die middag stap ek na die Oranjerivierspa met sy kabbelende water, wat jou van alle kante omvou.

Cindy, een van die somatoloë, neem my na die vertrek waar ek vir die volgende halfuur gepamperlang word.

Tussendeur vind ek uit hoe dit is om in Orania te bly. “Orania is goed vir my en my kinders. Hier sluit ons nie ons deure nie. My kinders is veilig. Hulle speel nog soos kinders moet: ry perd, ry fiets en hardloop kommervry na maats.

“In die somer is hulle baie meer aan die gang, want dan wink die rivier waar hulle hul ure lank met vlotte en waterponies vermaak. Die kinders is gelukkig hier, en wat meer wil ’n ouer hê vir sy kinders?”

Ná my bederfie vaar ek en die gesin die dorp in. Ons ry verby ’n huis met ’n bordjie, Francis se koeksisters, en ons hou stil om van dié lekkernye te kry. Beslis die lekkerste wat ons al geëet het.

Ons ry verby die koppie met die standbeelde van oudpresidente en neem foto’s. Ons neem ook foto’s van Orania se koeksister-standbeeld.

Teen skemer vaar ons op ’n vlot op die rivier. In die riete langs die rivier kwetter dit van voëls wat aan die einde van die dag na hul nessies terugkeer.

Met ons vertrek die volgende dag, is al die kinders dikmond – hulle wil langer bly. Ons hou by Francis stil vir nog koeksisters en koop sommer haar hele voorraad op.

Ons ry deur die skoon strate en sien gelukkige mense en mooi huise. En net soos in enige ander plek, ook verwaarloosde huise. Ek sien huise van gras, van hout en steen. Die begrafnisondernemer het ’n oulike sinkhuis in die dorp.

Ons sal beslis terugkom. Hierdie is ’n ware kinderparadys!

Hierdie is koeksister-wêreld en daar is selfs ’n monument daarvoor in Orania.
Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.