Die NG gemeente Aandbloem in die Westerbloem-sentrum vir bejaardes in Wilgehof vier die naweek van 21 Julie 25 jaar van genade.
Die gemeente het op 20 Julie 1994 afgestig van die NG gemeente Bloemfontein-Wes. Aandbloem bestaan uit meer as 600 lidmate wat almal in die sentrum woon. Die gemeente het drie predikante wat pastorale versorging van die lidmate behartig en die gemeente is opgedeel in 42 wyke, elk met ’n ouderling en diaken.
Die gemeente werk hard om geld in te samel om te help voldoen aan die nood van lidmate. Heelwat geld word gegenereer deur die klerewinkel in die Naudésaal en ’n span bakkers wat gereeld duisende pannekoeke bak om dit te verkoop.
Om die 25ste bestaansjaar van die gemeente te vier, word ’n verjaardag-geselligheid vir Saterdag 20 Julie beplan. Dit sluit ’n ete, ’n program met sang en musiek in, asook ’n video-terugblik oor die afgelope 25 jaar.
Op 21 Julie sal dr. Gerhard Botha – ’n voormalige leraar en nou verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat – die erediens waarneem.