Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ace kry sy dag in hof
Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, Dinsdag (10/11) op ’n verkiesingsaamtrek in Soweto om stemme vir die munisipale tussenverkiesings Woensdag te werf. Hy moet Vrydag in Bloemfontein in die hof verskyn. Foto: Facebook

Altesaam 21 aanklagte – agt van bedrog, vyf van korrupsie en agt van geldwassery – sal op die klagstaat wees wanneer Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, Vrydag (13/11) in die hof in Bloemfontein verskyn.

Die aanklagte hou verband met betalings aan derde partye, glo op instruksie van Magashule uit opbrengste uit die korrupte oudit van asbesdakke deur die Vrystaatse regering in sy termyn as premier.

’n Senior aanklaer in Bloemfontein het Dinsdag ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming onderteken en uitgereik.

Magashule kan hom vrywillig aan die polisie oorgee.

Die uitreiking van die lasbrief kom voordat Olly Mlamleli, uitgeskopte burgemeester van die Mangaung-metro, Edwin Sodi, miljoenêr-sakeman, Nthimotse Mokhesi, hoof van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings, Mahlomola Matlakala, verkrygingshoof van die Vrystaatse departement van mens­like nedersettings, Sello Radebe, eienaar van die maatskappy Mastertrade 232, Thabane Zulu, voormalige direkteur-generaal van die departement van menslike nedersettings, en Abel Manyeki vir ’n tweede keer in die streekhoof in Bloemfontein op verskeie aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery gaan verskyn.

Magashule se verhoor sal na verwagting Vrydag uitgestel word tot dieselfde datum as dié sewe se volgende verhoordatum in die hooggeregshof in Bloemfontein.

Die sewe se verskyning vroeër in die streekhof spruit uit die Vrystaatse regering se asbesdak-oudit van R255 miljoen, wat volgens die staat op “bedrieglike en korrupte wyse” tussen 2014 en 2016 gedoen is.

Hulle staan op agt aanklagte van bedrog en 44 van geld­wassery tereg. Sodi en Mokhesi staan ook op aanklagte van korrupsie tereg.

Volgens Pule Mabe, ANC-woordvoerder, sou Maga­shule sy regspan raadpleeg.

Mabe het in ’n verklaring gesê Magashule het by meer as een geleentheid gesê hy sal deur sy regspan sy samewerking aan wetstoepassingsagentskappe gee.

Magashule het Dinsdag in Soweto stemme vir die ANC gewerf voor Woensdag se munisipale tussenverkiesings. Hy het daar aan eNCA gesê hy weet nie van die lasbrief nie.

“As dit gebeur, sal dit gebeur. Ek is nie bekommerd nie, want as ’n wetsgehoorsame burger van Suid-Afrika het ek niks verkeerds gedoen nie.”

Carl Niehaus, woordvoerder van die MK-veteranevereniging en ’n vertroueling van Magashule, het in ’n verklaring gesê die verwikke­linge oor Magashule is “disrespekvol” teenoor die Grondwet en dat dit eenheid in die ANC bedreig.

“As die MKMVA het ons herhaaldelik gewaarsku teen die gebruik van selektiewe korrupsie-aantygings deur wetstoepassingsagentskappe om faksies vir politieke binnegevegte te teiken,” sê Niehaus.

Ek is nie be­kommerd nie, want as ’n wetsgehoorsame burger van Suid-Afrika het ek niks verkeerds gedoen nie.”

– Ace Magashule

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.