Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ál minder vir kinders

Talle van Engo se kinder- en jeugsorg­sentrums loop die risiko om voor Kersfees sonder kos te wees weens geldelike tekort.

“Engo maak staat op die bydraes en skenkings van die publiek en ondersteuning van gemeentes om hierdie risiko te beperk. Die jeugsorgsentrums is werklik afhanklik van dié bydraes en skenkings.”

Só sê die uitvoerende hoof van Engo, Dewet Claassens, oor die krisis wat in talle kinder- en jeugsorgsentrums oor die Vrystaat heen ondervind word.

“Engo sal altyd poog om noodgeld bymekaar te skraap om in dié kinders se behoeftes te voorsien. Engo sien sy verantwoordelikheid teenoor elke sentrum as ’n voorkeursaak. Die staat moet egter dringend begin om sy verantwoordelikhede na te kom,” sê hy.

Christa Maree, direkteur van residensiële kindersorg by Engo, sê sowat 60% van die geld wat beskikbaar is vir elke kind, kom van die staat. Die res word van bydraes uit die gemeenskap en van kerke, geld­insamelingsprojekte en fondse soos Volksblad se Ons gee om-fonds verkry.

Dit is veral inflasie, water- en elektrisiteitsrekeninge, asook die erge agterstand in verhoging van staatsubsidies, wat tot krisis-toestande by van die sentrums lei.

Claassens sê volgens die Nasionale Assosiasie van Welsynsorganisasies en Nie-regeringsorganisasies se hofuitspraak van 2014 moes nie-regeringsorganisasies in die Vrystaat in 2015 reeds R381 miljoen meer aan subsidie gekry het om bestaande dienste te kan voortsit.

Engo ontvang nou R3 876 per kind per maand aan staatsubsidie. Hy sê as noodsaaklike koste hiervan afgetrek word, beteken dit sommige jeugsorgsentrums het net sowat R300 per kind per maand beskikbaar. By die sentrums is daar van R12 tot R19 per kind per dag beskikbaar om drie maaltye te voorsien.

Dít terwyl die staatsubsidie reeds in 2015 R6 434 per kind per maand moes wees, volgens die model wat aan die staat in die 2014-hofsaak voorgelê is.

“Ons wil hê die kostemodel wat die hof aanvaar het, plus die R381 miljoen wat die model kortgekom het, en bykomende aanpassings vir die inflasiekoers vir vier jaar, moet dringend toegepas word,” sê Claassens.

Hy sê in dié stadium moet noodgeld bymekaargeskraap word om in sommige sentrums se kosbehoeftes te voorsien.

Maree sê die geld wat huise ontvang, dek net basiese behoeftes en by die meeste huise kry herstelwerk en die vervanging van ou voertuie nie aandag nie.

Sy sê daar is by talle huise ’n groot tekort aan skoene (veral tekkies), nuwe onderklere, skoolbenodigdhede (soos skryfbehoeftes) en nie-bederfbare kos.

Maree sê die situasie is so ernstig dat nege van die 32 huise oor die Vrystaat heen slegs reserwes vir een maand het.

Sy sê benewens die staatsubsidie wat nie aangepas is nie, is nog een van die groot uitdagings dat talle NG kerke baie swaar kry en dat hul bydraes gedaal het.

Die Desember-vakansie kom nader en talle van die kinders gaan dan na familie en ander versorgers. Elk van die kinders neem kospakkies saam en daar is ’n groot behoefte aan skenkings om dit moontlik te maak.

Maree sê daar is ook ’n groot behoefte aan tandartse, dokters en sielkundiges wat hul dienste gratis tot beskikking van die sentrums kan stel.

  • Volksblad se Ons gee om-fonds het vanjaar R453 638,28 ingesamel, wat onder 21 instellings in die Vrystaat en Noord-Kaap verdeel is.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.