Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Almal spesiaal op Kersdag
Vrywilligers bedien die haweloses en armes by die Tweetoringkerk.

Altesaam 350 haweloses, armes en inwoners van skuilings in Bloemfontein het ’n spesiale Kersdag gevier danksy Torings van Hoop en talle vrywilligers van oor die stad heen.

Die Torings van Hoop-stigting se jaarlikse Kersdagviering vir mense wat swaarkry het begin met ’n Kersdiens in die geskiedkundige Tweetoringkerk in die middestad.

In die diens het ds. De la Harpe le Roux, leraar en leier van Torings van Hoop, die Kersboodskap van Christus se geboorte oorgedra.

Sy boodskap aan die mense wat swaarkry was: “Ongeag jou omstandighede is jy net so spesiaal vir die Here as enigiemand anders.”

Ná die erediens is die 350 Kersgaste by tafels buite die kerk deur ’n tiental vrywilligers bedien met ’n Kersete van hoenderpastei, spinasie, soetpampoen en geelrys, en daarna nagereg. Met hul vertrek het elke gas ’n geskenkpakkie met eetgoed en toiletware ontvang.

Hierdie 11de jaarlikse Kersete wat Torings van Hoop met die hulp van sakeondernemings, ander kerke en inwoners van Bloemfontein kon aanbied, was weer eens wonderlik, sê Le Roux.

Wat vir hom besonders is, is hoe inwoners van alle gemeenskappe en verskillende kerke en oortuigings saamgekom en saamgewerk het om die mense wat swaarkry te bedien en hul dag spesiaal te maak. Selfs mense wat in skuilings moet bly weens hul omstandighede, het hul dienste aangebied.

“Die kerk was lanklaas so vol van haweloses én helpers.”

Hy was aanvanklik bekommerd dat hulle onder meer nie genoeg hoenderpastei vir die ete sou hê nie, maar Bloemfonteiners se harte en hande was oop en hulle kon ná Kersdag nog kos voorsien aan mense wat swaarkry.

“Ons het meer as genoeg gehad. ’n Mens kan ’n klomp negatiewe dinge oor Bloemfontein sê, maar hier is soveel goedheid.

“Ons is dankbaar vir elkeen wat gegee het, wat ’n pastei gebak het, wat gehelp het met die voorbereiding van die kos en wat op Kersdag hul tyd gegee het om ons mense te bedien. Dis eenvoudig wonderlik om te beleef hoe die liggaam van Christus saamwerk om die liggaam te bedien.”

Met die aanbreek van die nuwe jaar sit Torings van Hoop sy Woordbediening en versorging van mense voort, onder meer met ’n daaglikse sopkombuis.

Le Roux sê die sopkombuis beleef tans ’n ernstige tekort aan brood.

Mense wat wil help of betrokke wil raak, kan die kantoor by 051-430-4274 bel of ’n e-pos aan info@towersofhope.org stuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.