Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Begin nuwe lewe op hoë noot
Carel Greyling (links) en Bernard Maree het die eerste lig van 2019 op die berg Kilimandjaro aanskou. Hier is hulle by die Machamehek waar hulle moes registreer.Foto: Verskaf

Twee Bloemfonteinse manne wat in Desember matriek aan Grey-kollege (sekondêr) geskryf en uitgeblink het, het 2019 ingegaan deur die piek van die berg Kilimandjaro in Tanzanië te bestyg.

“Ek weet nie hoe om die gevoel te beskryf as jy die wolke onder jou sien of die pyn van die koue lug op jou vingers voel nie,” sê Bernard Maree oor dié ongelooflike ervaring.

Hy en Carel Greyling is al vriende vandat hulle in gr. 8 saam in die skoolkoshuis Huis Murray was.

Bernard vertel hy is baie avontuurlustig en wou al sedert gr. 8 berge klim en in reënwoude stap.

“Dit is my droom om eendag die berg Everest uit te klim,” sê hy.

Bernard sê hulle het besluit om die tog aan te pak omdat dit ’n wonderlike manier is om die “grootmenslewe” op ’n hoë noot te begin.

Carel sê die tradisionele matriekvakansie is nie juis vir hulle nie en het gevoel dat hierdie ’n baie groter avontuur sou wees as ’n see-vakansie, en vir hulle lewenservaring sou bied.

Die klimtog het op 27 Desember by die Machame-hek begin waar hulle moes regis­treer. Die staptog het in die reënwoud op 1 900 m begin en Bernard sê hulle kon dadelik die vermindering in lugdruk voel.

“Ons het daardie dag so 11 km na ons kamp gestamp. Op dag twee het ons 5 km teen styl opdraandes uitgeklim. By die kampplek aangekom, het ons nóg so 200 m verder geklim en teruggestap om ons te help met die akklimatisering vir die volgende dag.”

Op dag drie het hulle tot op ’n hoogte van 4 600 m na die Lava Tower gestyg.

“Ons het dié dag in ysreën gestap en dit was vir my die taaiste dag naas die dag waarop ons die bergpiek bestyg het,” vertel Bernard.

Op dag vier het hulle van die Baranco-kamp aan die voet van die 400 m-hoë muur wat hulle moes uitklim, begin stap.

By die Karanga-kamp aangekom, moes hulle daardie middag ’n verdere 300 m styg om hulle te help om te akklimatiseer voordat hulle kon rus.

Dag vyf tot by die basiskamp Barafu was ’n redelike rustige 5 km omdat hulle dié aand met die groot klim moes begin.

Om op die piek van Kilimandjaro te wees as die son opkom, het hulle om 22:00 op 31 Desember begin stap. Hulle was om 06:00 op 1 Januarie bo-op die piek van dié berg waarop hulle die uitsig kon aanskou.

Carel sê die ongeveer sewe uur se klim was een van die moeilikste dinge wat hy nog in sy lewe aangepak het omdat hy erge hoogtesiekte ontwikkel het.

“Die gevoel om bo te kom is egter onbeskryflik – dit het my baie moed gegee om die jaar so te begin. Dit is ’n versekering dat ek hierdie jaar alles sal kan hanteer en oorkom – niks kan erger wees as om Kili te klim nie,” sê hy.

“Dan onthou jy dat jy nog moet afgaan ook.”

Bernard sê hul Camel Pack- waterrugsakke het gevries terwyl hulle teen die bergpiek opgeklim het.

“My klere het begin vries en daar het ’n dik laag ys oor alles gevorm. Daar bo het die moegheid my soos ’n muur geslaan en ek het in my slaap geklim. Toe ek bo kom, was die uitsig en die voorreg om die sonsopkoms te sien, ongelooflik.”

Bernard vertel die afgaan was ook ’n uitdaging.

“Nadat die ys ophou, is daar vulkaniese as wat los op die grond lê en ’n mens sukkel om vas te trap.”

Bernard sê hulle het so 16:00 by die basiskamp aangekom en die dag daarna na die Mweka-hek afbeweeg.

“Die beste ding toe ons onder kom, was die Coke wat ek gedrink het.”

  • Die twee manne het goed gevaar in hul matriekeksamens met Carel wat sewe onderskeidings behaal het en Bernard wat drie onderskeidings behaal het.

Carel gaan ruimtevaart-ingenieurswese aan die Universiteit van New South Wales in Australië studeer en Bernard gaan argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

Hul pa’s, Nico Maree en Johan Greyling, het die staptog met hulle meegemaak.

Ek weet nie hoe om die gevoel te ­beskryf as jy die wolke onder jou sien of die pyn van die koue lug op jou vingers voel nie. – Bernard Maree

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.