Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bergkoninkryk

’n Toergids met ’n passie vir Lesotho gee nuwe betekenis aan die Bergkoninkryk, wat net ’n katspoegie van Bloemfontein weg is. Elretha Britzvertel van haar ervaring saam met ’n groep vriende en kenner Jan Oberholzer.

Waar in die Suidelike Halfrond is die hoogste waterval wat direk na onder stort?

In watter land kom die ysrot voor?

Waar kry jy die hoogste bergpas in Afrika?

Watter land het die kortste treinspoor ter wêreld?

Die antwoord op al dié vrae is Lesotho, maar dit en oor baie meer diepstes, hoogstes, langstes en grootstes sal jy net weet as jou naam Jan Oberholzer is.

Jan, wat op ’n plaas by Ladybrand grootgeword het en steeds daar boer, het ’n ongekende liefde vir die Berg­koninkryk en sy mense. Hy is 40 jaar al ’n gids, praat die taal vlot en is ’n wandelende ensiklopedie van kennis.

Dit het ons uitgevind toe 16 vriende vir ’n langnaweek Semonkong saam met Jan verken het.

Jy weet jy is in ’n ander land wanneer jy in ’n rustige mense-gemaal en tussen krom en skewe kosstalletjies voor die Maseru-grenspos aankom. Net die amptenare is nie te gemoedelik nie – maar dit vind jy oral ter wêreld.

Sonder voorval is ons deur Maseru se uitdagende verkeer en verby Roma met sy bekende universiteit voordat ons kon ontspan.

Landelike Lesotho is skilderagtig mooi. Ons probeer vergeefs die golwende glooiings, blink stroompies in die valleie en gras-bedekte bergpieke afneem – die landskap is te groots vir ’n foto.

“Net in Lesotho groei gras bokant ’n berg se normale boomgrens,” verduidelik Jan.

“Omdat dié berge 50 miljoen jaar ouer is as byvoorbeeld die Alpe in Europa, het die lawa kans gekry om te verbrokkel en ’n grondlaag van tot 40 cm diep te vorm. Dit is ideaal vir gras en blomme om te gedy.”

By die Ramabanta-handelspos trek ons van die teerpad af. Die netjiese lodge is omring met uitgestrekte tuine waar party ’n biertjie knak voordat ons die steiltes uit aanstreep Semonkong toe.

Die laaste 700 m na dié lodge op die oewer van die Maletsunyane-rivier vra vir meer bier – daar is nie ’n manier dat jy die gate en diep slote kan misry nie, maar ons kom heelhuids aan en word na die chalets geneem.

Dit het besonder ruim badkamers en stapelbeddens met slaapplek vir ses tot agt mense. Die toegeruste kombuis word gou die hart van ons kuiers.

Op dag een neem Jan die groep met ’n lang ompad na die bokant van die Maletsunyane-waterval. Op pad buk ons by blommetjies en plantspesies waarvan hy die meeste op hul botaniese name ken.

Ons sien ’n ysrot wat soos ’n marmot lyk en net bokant 2 000 m bo seespieël voorkom. Dit is die jakkals-roofvoël se smaaklikste kos, sê Jan. Dié dat die outjie sy skerp snoet vinnig agter ’n klip terugtrek toe hy beweging gewaar.

Jan is nou opgewarm en sy kennis smokkel met ons kop.

“Lesotho is die hoogste koninkryk ter wêreld. Die botaniese tuin by die Katsedam en die Letseng-diamantmyn is die hoogste in die wêreld. Die hoogste begaanbare pas in Afrika, 3 278 m bo seespieël, is die Mahlasela. Die kortste spoorlyn ter wêreld is die enetjie by die Maseru-grenspos.”

Dit is kort maar bedrywig, verseker Jan ons, want dit is hierlangs dat verwerkte materiaal vir jeans vervoer word – jeans wat oor die wêreld heen verkoop word.

Ons suiker verby tradisionele hutte, halfgeboude huise en moderne huise, beeste, skape, donkies en perde teen die groen heuwels en op die pad.

Die herders en ruiters dra komberse oor hul klere, vasgesteek op die regterskouer. Die kierie is in die hand om vee te beheer.

“Die vroue se komberse word onder die ken vasgesteek, sodat albei hande los is om hul take te verrig. Hulle doen al die werk binne en buite die huis, en dié wie se mans in Suid-Afrikaanse myne werk, bou self hul huise. Hulle is dood­tevrede en ’n gelukkige nasie,” verseker Jan ons.

Die paadjie na die waterval slinger voort, maar uiteindelik is ons daar.

Om die water te sien val kan jou dood kos. Dit is steil en die val is ver. Vir dié met hoogtevrees is dit angs­wekkend.

Ons stap die volgende dag na die voorkant sodat ons met een oogopslag die hele 192 m-val kan sien.

Dié gesig is inderdaad die R100 werd – ’n toerisme-amptenaar keer ons by sy vraghouer-kantoortjie voor om dit te eis.

Die simmetrie weerskante van die val verstom ’n mens, en ook die dapperes wat soos spikkeltjies met die hoogste abseilkabels in Afrika langs die waterval hang.

Van ’n afstand lyk die kontoerpaadjie na die onderkant van die waterval maklik, en ’n paar van ons besluit om dit aan te pak. Abseilers op pad na bo waarsku ons teen die verraderlike paadjie en gevaarlike los gruis, maar ons reken ons is ou stappers – en gly nog ’n ent onwille­keurig af voordat ons besgee.

Volgende keer sal ons betyds begin om tot by die “pot goud” aan die onderkant van die val te stap. Ons het reeds besluit om volgende jaar weer na Lesotho te gaan.

Van Bloemfontein is dit net ’n kat­spoegie na die rustigheid en uitsonder­like natuurskoon van dié buurland; een wat altyd bekoorlik is, maar volgens Jan veral in Februarie en Maart.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.