Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bewarea gered

Inwoners in die omgewing van die Sewe Damme-bewarea in die noorde van Bloemfontein is verheug nadat die Mangaung-metro aangekondig het dat hy nie meer ’n deel van die bewarea gaan verkoop nie.

Só sê adv. Jo Hiemstra, voorsitter van die Vriende van Sewe Damme-bewarea.

’n Brief is aan die meer as 2 500 ondersteuners gestuur wat ’n beswaarskrif hieroor onderteken het.

Bloemnuus het op 14 Maart berig dat die Mangaung-metro op ’n raadsvergadering in Januarie besluit het om ’n deel van die bewarea te verkoop.

Bloemfonteiners het heftig reageer op die besluit dat grond in die bewarea vir ontwikkeling verkoop kan word, en dit teen ’n belaglike prys. Die besluit is net voor die nasionale verkiesing geneem.

Hiemstra het hierna ’n beswaarskrif aan die metro en die minister van omgewingsake gestuur.

“Ons het ’n brief ontvang wat deur Mangaung aan ons prokureurs gerig is, waarin ons ingelig word dat hulle besluit het om nie meer die omstrede deel van die bewarea te verkoop nie. Ons is dankbaar dat ons nie die hof hieroor hoef te nader nie.

“Ons het waardering vir die feit dat die betrokke amptenare die insig en pragmatisme getoon het om ons voorleggings na behore te oorweeg en ’n verantwoord­bare besluit daaroor te neem.

“Ons is bewus van die feit dat dit vir die amptenary, wat dikwels onder druk van politieke en ander oorwegings gebuk gaan, nie noodwendig maklik was om so ’n besluit te neem nie.”

Hiemstra sê hulle is trots daarop dat hulle die gemeenskap op dié manier kon dien. Die liggaam wil ’n langtermyn-ooreenkoms met die metro sluit wat die voortbestaan van die bewarea verseker.

Die liggaam sal regsverteenwoordiging in die tribunaal wil hê, sê hy.

“Ons wil graag ons waardering uitspreek vir die heelhartige en uitgesproke ondersteuning wat ons van die gemeenskap gekry het,” sê Hiemstra.

Rossouw Botes, ’n DA-raadslid wat die saak op 31 Januarie vanjaar op ’n stadsraadsvergadering hanteer het, sê hy is verheug oor die besluit dat daar nie voortgegaan word met die verkoop van die grond nie.

“Die DA het op die raadsvergadering uitgewys dat die saak op ’n hofsaak sal uitloop.”

Die ANC het met sy meerderheidstem steeds besluit om die grond te verkoop.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, ’n raadslid van die VF Plus, het vroeër gesê dit is verdag dat die ANC net voor die verkiesing die grond in die groen strook so goedkoop wou verkoop. Sy het gesê die verkoopprys wat in die raad goedgekeur is, het op R45/m² neergekom, terwyl die heersende prys R110/m² is.

Sy het soos Botes gemeen dat wetgewing die metro verbied om dit te verkoop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.