Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bfn-baken sluit dalk
Een van die stad se oudste kuierplekke, die Mystic Boer, se deure gaan dalk nooit weer oopmaak nie.Foto’s: Lientjie Mentz

Een van Bloemfontein se oudste kuierplekke sal dalk nooit weer sy deure kan oopmaak nie.

Dit is een van die talle gevolge van die regering se verbod op die verkoop van alkohol en die aandklokreël op die bedryf.

Van links is Reinet Enslin (Olive Chef School) en Kim en Nicola Brackenridge (Bella Casa) by Woensdag se betoging.

Petri Coertzen, mede-eienaar van die Mystic Boer, sê die inperking en maatreëls teen Covid-19 het verpletterende gevolge vir hierdie soort onder­nemings.

Die personeel van restaurante oor die stad heen het op Woensdag 22 Julie deelgeneem aan ’n nasionale betoging om griewe te lug oor onder meer die verbod op drankverkope.

“Ons het die plaaslike kroeg en kuierplek die Mystic Boer 23 jaar gelede in Kellnerstraat oopgemaak en sedertdien het dié familie­besigheid ook takke in Stellenbosch, Potchefstroom en Pretoria oopgemaak,” vertel Coertzen oor dié gewilde studentekuierplek.

Sedert die nasionale staat van inperking einde Maart begin het, kon hulle nog nie weer oopmaak nie.

“Ons sukkel om vir al ons personeel werkloosheids­versekering-uitbetalings te kry. Ons gaan waarskynlik al die takke moet sluit,” sê sy.

Coertzen het byna ’n jaar gelede saam met die egpaar Jamandi en Machiel Bekker, wat in 2017 die kompetisie van die televisie-reeks My Kitchen Rulesgewen het, The Social Food Club in Brandwag oopgemaak.

“Ons vier op 4 Augustus ons eerste jaar, maar in plaas daarvan dat ons feesvier, moes ons al byna die helfte van ons personeel laat gaan,” sê Coertzen.

“Met talle van ons personeellede wat saans met taxi’s moet huis toe gaan en teen 21:00 tuis moet wees, moet ons vroeg sluit en kan ons nie laat sake doen nie.

“Ons moet nou al sewe dae ’n week oop bly en ons fokus op ontbyt. Ons het ook vermaak saam met lekker etes op Sondae.

“Die verbod op die verkoop van drank en die aandklokreël knou ons restaurant erg.”

Die The Edge-restaurant op Naval Hill kan nie oopmaak nie omdat toegang na Naval Hill steeds verbied word. Hier is van links Brend Swanepoel, Henk Pieterse en Julia Guga van The Edge, wat op Woensdag 22 Julie aan die betoging deur restaurante teen die regering se streng maatreëls teen Covid-19 deelgeneem het. Foto’s: Lientjie Mentz

Nog ’n restaurant-eienaar wat ’n verdere terugslag beleef, is Henk Pretorius van The Edge op Naval Hill. Dié restaurant kon sedert die aankondiging van die inperking einde Maart glad nie oopmaak nie omdat toegang na Naval Hill verbied word.

“Ons het al baie navrae gerig, maar ons kry geen antwoorde oor wanneer Naval Hill weer gaan oopmaak nie,” sê Pretorius.

Hy sê hulle kon geen geld kry uit aansoeke by noodfondse wat ingedien is nie, selfs al het die restaurant swartbemagtigingstatus.

“Die banke wil ook nie restaurante help nie, omdat die risiko te groot is.”

Kim en Nicola Brackenridge van Bella Casa in Westdene sê die plan was dat werknemers en bestuurs­lede van talle restaurante Woensdag tussen 12:00 en 14:00 stoele en tafels in Tweedelaan sou pak as deel van die nasionale betoging.

Kim sê hulle het Dinsdagaand van die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) gehoor hulle mag betoog, maar dat die polisie beveel het dat hulle nie die oorspronklike plan met die stoele en tafels mag uitvoer nie.

Personeel het toe Woensdag op die hoek van Tweedelaan en Pres. Steynlaan plakkate omhoog gehou as deel van die betoging.

William Horne het in Maandag (27/07) se Sake-Volksblad berig Wendy Alberts, uitvoerende hoof van Rasa, het ’n verslag ontvang waarin bevestig word dat na­genoeg 16 000 restaurante oor die land heen permanent gesluit is.

Marietjie Gericke het ook Maandag in Volksbladberig dat ’n nuwe verbod op dobbelmasjiene klein kroeë in Bloemfontein kan dwing om permanent te sluit.

Met die verbod op drank­verkope het kroegeienaars planne gemaak, soos om wegneemetes te bedien, en die inkomste uit dobbelmasjiene gebruik om ’n bietjie geld te maak om hul uitgawes te dek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.