Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bfn-kokke kook op TV

Drie Bloemfonteiners is onder die 20 onthoukokke wat dit van 18 Julie af op kykNET saam met tien kinkelkokke om die Kokkedoor-kroon gaan uitspook.

Onthoukokke is die fakkeldraers van onthoukos en het nie formele sjef-opleiding soos die kinkelkokke nie.

Mariette Aucamp, Wilhelmina Gracao en Rita Willers is al drie baasbakkers en was in hul noppies om deel van Kokkedoor 3 te wees.

Mariette het in Januarie van Koffiefontein na Bloemfontein verhuis om bietjie meer tyd te kry om kos te maak. Voordat sy as rekenmeester in Koffiefontein begin werk het, het sy jare lank in Tanzanië gewoon. Sy sê dié blyplek het ’n groot invloed op die manier waarop sy kosmaak.

Sy is baie lief vir bak: koeke en pasteie.

“Dit is die lekkerste om op ’n Sondag ‘kreun-kos’ voor te sit – kos wat die tafel laat kreun.” Wanneer sy kos maak, gaan dit vir haar baie oor die onthou van naweek-kuiers op haar grootwordplaas tussen Stella en Vryburg.

Wilhelmina, wat sowat 14 jaar restaurante in Kimberley bedryf het, woon sedert 2017 in Bloemfontein waar sy vir private funksies kos maak en koeke bak. Sy sê sy gaan nog gereeld terug Kimberley toe waar sy ’n “opskietrestaurant” vir ’n dag lank vir haar ou kliënte aanbied. Sy help ook gereeld met gesellighede by die Makarios Country Lodge.

Sy sê haar groot passie is nagereg en sy hou daarvan om kreatief te wees.

Haar deelname aan Kokkedore was “ ’n lewensveranderende ervaring” en iets wat haar lewenslank gaan bybly.

“Ek het sommer baie geleer oor hoe televisie werk en kyk beslis met nuwe oë na die lang lys name wat ná ’n program afrol.”

Sy sê sy is regtig trots om met ’n TV-reeks soos Kokkedore verbind te word.

Rita is Bloemfontein se “koek-tannie”, maar sy is net so lief daarvoor om lekker boerekos te maak. Sy sê kosmaak is in haar bloed met haar ma en ouma wat graag gekook het. Rita gebruik nog een van haar ouma se resepteboeke wat uit 1937 dateer.

“Koskook is my passie, maar koekbak is my stokperdjie,” vertel dié ma van vier seuns. Sy sê sy gebruik hulle gereeld as proefkonyne om seker te maak iets wat sy maak, is lekker.

“Die Here gee vir ’n mens gawes waarmee jy ander moet seën. Ek seën ander met my kos.”

  • Sy sê dit is ’n groot voorreg om een uit sowat 2 000 inskrywings van oor die land heen te wees wat deel van Kokkedore is. Kokkedore 3 begin om 18 Julie om 20:00 op kykNET. Daar is 13 episodes.

In die eerste episode gaan tien onthoukokke die trekpas kry. Tien spanne, wat elk uit ’n kinkel- en onthoukok bestaan, gaan dit om die kroon uitspook.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.