SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Bfn moet leer herwin

Die Mangaung-metro beloof dat die agterstand met vullisverwydering die afgelope tyd die week sal normaliseer en dat planne in plek is om in 2020 ’n beter diens te lewer.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro, sê die proses om meer werknemers aan te stel het begin.

“Met bykomende personeel hoop ons om beter te kan beplan vir ’n skofstelsel om die oortydbetaling wat ’n groot probleem skep, teen te werk.”

Duart Hugo van die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA), wat op ’n nasionale moniteringskomitee vir omgewingsbestuur dien, sê weens die swak afvalbestuur in Suid-Afrika en veral Mangaung, is daar baie druk op stortingsterreine. “Daar is geen optrede teen onwettige stortings en mense wat rommel strooi nie. Kyk net hoe lyk ons strate en toegangsroetes na die stad. ’n Mens kry skaam. Ons hier in die stad dra egter in ’n groot mate by tot die besoedeling.”

Tjaart van der Walt, DA-raadslid, het op twee vergaderings wat die afgelope maand gehou is, een by die NG kerk Gardeniapark en een by die Hoërskool Sentraal, gesê die publiek het ook ’n rol te speel om afval wat rondlê en op stortingsterreine beland, te verminder.

“Die onus rus op ons as gebruikers wat afval skep om dit te verminder,” het hy gesê.

Volgens Van der Walt skep die gemiddelde hoë-inkomste-huishouding ongeveer 1 tot 3 kg vullis per dag, ’n medium-inkomste-huishouding ongeveer 800 g tot 2 kg per dag en lae inkomste-huishoudings slegs sowat 200 tot 800 g per dag.

“Tussen 30% en 50% van materiaal wat ons daagliks gebruik, kan herwin word en die las op vullisverwydering verlig.”

Van die voorstelle wat hy gegee het, is om materiaal soos verpakkingsmateriaal te hergebruik en alles wat moontlik is te herwin.

’n Groot deel van die organiese materiaal wat hoë- en medium-inkomste huishoudings daagliks weggooi, kan sinvol op ’n komposhoop gegooi word.

“Ons het aan inwoners van Fichardtpark gratis deursigtige sakke gegee waarin herwinbare materiaal geplaas kon word wat dan weekliks deur ’n kontrakteur verwyder is,” sê Hugo.

Die projek is gestaak omdat mense nie goeie herwinningsbeginsels toegepas het nie. Sedertdien is daar elke tweede Saterdag van die maand ’n kontrakteur wat tussen 09:00 en 11:00 herwinbare materiaal by die parkeerterrein van die Fichardtpark-biblioteek in ontvangs neem. E-vullis (elektroniese produkte tot so groot as ’n mikrogolfoond) kan ook elke einde van die maand hier afgegee word.

  • Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) het Vrydag (22/11) ’n projek bekend gestel met vullishouers waarin onder meer plastiek, papier, blikkies en polistireen herwin kan word. Die vullis-houers het volgens prof. Herman Vermaak van die SUT se fakulteit van ingenieurswese wat die asblikke ontwerp het, ’n ingeboude monitering-stelsel wat met ’n toepassing verbind is wat die vlak in die asblikke monitor sodat vol asblikke betyds leeggemaak word. Die kontrakteur sal Saterdag (30/11) weer in Fichardtpark wees om herwinbare materiaal in ontvangs te neem.) Neem deel aan die gesprek oor of jy herwin, hoe jy tuis herwin en waarheen jy herwinbare materiaal neem op Bloemnuus se Facebookblad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.