Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bfn staan saam om kinders te beskerm

Die kernfokus van Kinderwelsyn Bloemfontein en Childine Free State is die beskerming van kinders teen enige vorm van mishandeling.

Dit word gedoen deur ’n groot verskeidenheid dienste, programme en sentrums in Bloemfontein en oor die Vrystaat heen.

Die algemene jaarvergadering van dié instelling is Donderdag (06/09) in die Bon Hotel Bloemfontein-sentraal aangebied.

Lani Opperman, uittredende voorsitter, het in haar boodskap personeel en betrokkenes bedank vir die klein revolusies wat hulle die afgelope jaar teweeg gebring het.

Sy het gesê om in ’n omgewing te werk waar ’n mens voortdurend in ’n stryd is om kinders te beveilig, raak ’n mens maklik oorweldig en moedeloos omdat die stelsels nie werk nie.

“Hoe kan ek die wêreld transformeer? Om hierdie vraag te beantwoord, sluit ek aan by die nasionale ambassadeur, Dawie (Roodt), wat sê jy kan begin deur jouself lief te hê.

“Ek kompeteer met niemand nie. Ek speel nie die speletjie om beter te wees as enigeen of enigiets nie. Ek probeer net beter wees as die mens wat ek gister was. Môre sal beter wees omdat ek beter gaan wees en die krag het om kinders te beskerm en ons nasie te verbeter. Dit is hoe ek die wêreld nou wil transformeer,” sê Opperman.

In haar boodskap het die direkteur, Mariètha Johnson, gesê alles is die moeite werd as jy net een kind se lewe kan verander.

Op die vergadering is aangekondig dat Alec Saayman, voorheen die tesourier, as die nuwe voorsitter van die raad aangestel is.

Childline is ’n 24-uur tolvrye hulplyn vir kinders en hul families wat die slagoffers van geweld is. Dié oproepsentrum ontvang gemiddeld 8 000 tot 10 000 oproepe per jaar.

Met Kinderwelsyn Bloemfontein se verskeie projekte is sowat 4 572 kinders die afgelope jaar in verskillende gebiede bereik met dié instelling se verskillende inisiatiewe.

Die afgelope jaar is 288 kinders tydelik volgens die Kinderwet in veiligheid in die Talitha Cumi- en Elpizo- kinder- en jeugsorgsentrum geplaas.

Die Tshepong Thuthuzela-sorgsentrum vir slagoffers van seksuele mishandeling, verkragting en fisiese mishandeling is verlede jaar ná ’n jaar in onbruik, weer in gebruik geneem.

By dié sentrum by die Nasionale Hospitaal, doen ’n dokter ’n mediese ondersoek en die slagoffer se verklaring word deur ’n amptenaar afgeneem.

Kinderwelsyn Bloemfontein is ook by twee kleuterskole, Heidedal Crèche en Pre-Primêr, en Bloemfontein Crèche en Pre-Primêr, betrokke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.