Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bittereinders se rol gedenk

Die rol van die Bittereinders in Suid-Afrika se geskiedenis is met ’n kranslegging by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein en ’n lesing oor ’n minder bekende Boeregeneraal wat enduit bly veg het, gedenk.

Die handjievol Boerekrygers wat teen 31 Mei 1902 steeds in die veld was, se rol in die geskiedenis word saam onthou op dié dag waarop die Vrede van Vereeniging en Republiekdag gedenk word.

Dr. Willie Pretorius, historikus van Pretoria, het Saterdag (01/06) die gedenklesing oor die veggeneraal Piet Retief Viljoen van die Heidelberg-kommando gelewer.

Viljoen, die kleinseun van die Voortrekkerleier na wie hy genoem is, het tot die bitter einde teen die Britse oormag bly veg.

“Ons as nageslag van die Boerekrygers en die Afrikaner vier elke jaar hierdie dag. Ons hou die geskiedenis lewend sodat ons jeug, asook toekomstige geslagte, hierin kan deel,” het Pretorius gesê.

Die verhaal van veggeneraal Piet Retief Viljoen is gebruik omdat daar nog niks oor hom geskryf is nie.

“Hy het gedurende die oorlog ’n veelbesproke lewe gelei, en myns insiens het hy hom baie goed van sy taak gekwyt. As Bittereinder het hy werklik tot aan die einde van sy lewe sy rol vervul.”

Volgens Pretorius is ’n Bittereinder iemand wat tot aan die einde volhou.

“Maar dit kan ook verwarring wek. Om ’n Bittereinder te wees, beteken nie om vol te hou totdat alles vernietig is nie. Langs die pad moes inkeer kom sodat die mense kon besef dat dit – dat die einde moes aanbreek – die wil van Bo kon wees. Dat die einde moes aanbreek.

“Hulle het besef hulle kon nie meer met die oorlog aangaan nie. Wat gered moes word, moes nóú gered word. En daarin het hulle skitterend geslaag.”

Die uitslag van die vredeskongres – 54 stemme teen ses vir vrede – is ’n duidelike weerspieëling daarvan.

Dr. Pieter Mulder, die voormalige leier van die VF Plus, wat die dag bygewoon het,, meen dit is jammer dat sulke dae nie meer gevier word nie.

“As jy dink aan die lyding wat die mense deurgegaan het, bly die datum van 31 Mei belangrik,” het Mulder op die geleentheid gesê.

“My ouma, Maria Catharina, was in die Merebank-konsentrasiekamp – dit raak dus my familie direk. My oupa was ’n Bittereinder. Hy was Pieter Willem Adriaan Mulder, wie se naam ek dra.

“Dit raak ’n mens persoonlik en jy word groot met hierdie stories. My ouma-hulle se huis is afgebrand, maar met herbouings het sy die deurkosyn net so gelos.

“Toe ek as seuntjie daar gekom het, was die kosyn nog pikswart. Sy het gesê niemand moet dit ooit verf nie: ‘Ons moet onthou wat die Engelse gedoen het’,” het Mulder herroep.

“Heelwat emosie gaan vandag verlore omdat mense nie verstaan nie.”

Volgens Mulder is dit ’n fout dat die huidige leerplan omtrent drie reëltjies aan die Anglo-Boereoorlog bestee.

Sy groot kritiek teen die regering is dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis oor 300 jaar tot wit teen swart vereenvoudig word.

“Jy moet die Brit-Boer-geveg verstaan om Suid-Afrika te verstaan. Dit was nie net wit teen swart nie; dit is ’n baie meer ingewikkelde en genuanseerde geskiedenis.

“Voordat ’n mens dit nie verstaan nie, verstaan jy nie die land nie.”

Arnold van Dyk, voorsitter van die Vriende van die Oorlogsmuseum se Bloemfontein-tak, het die geleentheid gelei.

Verskeie verenigings, waaronder Die Voortrekkers, die Bloemfonteinse en Bethlehemse Rapportryers, die Vriende van die Oorlogsmuseum en die Vriende van die Ou Presidensie- historiese vereniging, het kranse gelê by die gedenkmuur vir burgers wat in die Anglo-Boereoorlog op kommando gesterf het.

Die Vrijstaatse Wapenversamelingsvereniging het die saluut waargeneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.