Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bloem-stadsaal gou weer sieraad

Die restourasiewerk aan die afgebrande Bloemfonteinse stadsaal behoort teen November afgehandel te wees.

Só sê Anton Roodt van Roodt Argitekte, die kontrakteur wat die stadsaal herstel nadat dit op 21 Junie 2017 tydens ’n Samwu-staking in ’n verwoestende brand in puin gelê is.

Boonop beplan die metro om die tuine om die stadsaal op te knap en 2 500 roosbome hier te plant.

Volgens Roodt is die werk aan die tuine belangrik om die toneel voor te berei vir ’n spesiale inwyding wat die Rosestad se gemeenskap weer by die “hart van die stad” byeen kan bring.

Roodt meen die restourasiewerk verloop verbasend goed en in ooreenstemming met die erfenis-owerhede se vereistes dat die historiese gebou tot sy oorspronklike vorm herstel moet word.

Hy sê hulle bring nou die plafonne aan.

“Ná die plafonne moet die geveerde vloere, wat herstel is soos dit was en waarop weer lekker gedans sal kan word, vernis word.

“Aan die voorportaal moet ook nog gewerk word. Alles moet skoongemaak word en die deure wat met die jare ’n bietjie slytasie bygekry het, moet ook aandag kry. Die werk loop mooi,” sê Roodt.

Hy sê die ligte is ook oorgedoen en die vloere en mure is reeds alles voltooi.

Die dak se nuwe teëls is besonders en lyk baie soos die oorspronklikes. Die vloer is weer van kiaathout en die oorspronklike hout is vir die vensterrame gebruik.

“Ons is baie optimisties dat die gebou so na as moontlik aan sy oorspronklike vorm herstel sal wees en dat dit weer ’n sieraad vir Bloemfontein sal wees.”

Roodt sê hy het ’n brief aan die metro geskryf en gevra dat daar solank aan die tuine gewerk moet word om te verseker dat alles mooi lyk vir die inwyding.

Hennie van Niekerk, DA-raadslid, het ná ’n gesprek met Dawie Coetsee, hoofbestuurder van die metro se parke-afdeling, bevestig dat die tuine rondom die stadsaal reeds opgeknap word.

Altesaam 2 500 roosbome gaan geplant word en die groot grasperk voor die stadsaal word ook herplant.

Boonop is heelwat gedoen om te verseker dat daar water vir die tuine sal wees.

“’n Bedrag van R50 000 is bestee om ’n boorgat in die suidoostelike hoek te sink. Die kontrakteur het 100 meter diep geboor en op sterk water afgekom. Dit is getoets en verskaf nou 35 000 liter water per uur.”

Die gat is met ’n pomp toegerus en ses 5 000 liter-tenks is agter die stadsaal opgerig.

Hy sê dit is verblydend om te weet dat die tuine ná jare weer opgeknap word.

“Dit blyk dat die hele besproeiingstelsel teen die einde van Oktober ten volle in werking sal wees.”

Die gras en roosbome behoort ook dan geplant te wees. Die projek kos R400 000.

“In die volgende drie jaar sal R1,8 miljoen in die begroting beskikbaar wees om die tuine rondom die stadsaal, asook die stad se Burgersentrum, na behore te verbeter en in stand te hou,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.