Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boek gee beeld van dorp se wel en wee

Die pragboek met sy meer as 500 foto’s, gee ’n beeld van die mense, geboue en geskiedenis van dié dorp se wel en wee.

Die historiese foto’s is so goed versorg dat hulle eietyds lyk: ’n Ry swart motors staan in 1937 voor die pastorie ingeryg; die voertuie en voetgangers in dieselfde straat in 1940; die NG kerk ná die Anglo-Boereoorlog.

Die gehalte daarvan is deels te danke aan die digitale vaardigheid van die skrywer se broer, Nico, wat ook verantwoordelik was vir die bladuitleg.

Anders as baie self uitgegewe boeke is dit taalkundig uitstekend versorg. Jens Friis is ’n gesoute joernalis wat redakteur van Bloemnuus en die Philippolis Post was. Die boek is aan sy ouers, Jens en wyle Naòmi Friis, opgedra. Jens sr. was jare lank die skoolhoof.

Die hardebandboek van 260 bladsye op glanspapier is ’n egte koffietafelboek en toeristegids. Philippolisers kan trots hierop wees.

Friis noem mense wie se spore hier “diep en wyd” lê: die aktrise Brümilda van Rensburg, die Springbok-kaptein Adriaan Strauss en die aanvoerder van die Springbok-sewes-rugbyspan Philip Snyman, en die digter en Hertzogprys-dramaturg Pieter Fourie, wat ’n essay en gedig lewer oor sir Laurens van der Post, “die bekendste boorling van my geboortedorp”.

Dit is die dorp waar pres. M.T. Steyn in 1887 sy bruid, Tibbie Fraser, kom haal het. Sy was die dogter van ds. Colin Fraser, die eerste NG leraar. Ander historiese figure is Petronella van Heerden, Emily Hobhouse wat haar eerste spin- en weefskool in 1905 hier begin het; Abraham Fischer en die beminlike taalstryder-dominee Tobie Muller wat in die Groot Griep van 1918 gesterf het.

Friis is ’n knap essayis, ook oor die mense en taal van die bruin en swart buurte, die teerpad tussen Philippolis en Trompsburg waarvan hy elke “hobbel en knik” ken, lekkende rioolpype wat ’n otter die eerste keer in menseheugenis na Philippolis laat trek het; Waterkloof: “Kibboets tot spookdorp”.

’n Foto toon twee stukke treinspoor wat in die droë gras eindig. Dis die gewese stasie op die tot niet geraakte spoorlyn tussen Springfontein en Koffiefontein: Philippolis Weg.

’n Skitterende boek, op ’n oorspronklike manier aangepak.

  • Steyn is ’n kultuurhistorikus en bekroonde Afrikaanse skrywer.
  • Friis het die boek verlede jaar in drie maande saamgestel om saam te val met die eerste reünie in 16 jaar van die Hoërskool M.T. Steyn wat in November 2018 in die dorp gehou is. Hy woon deesdae in Johannesburg.

Met honderde foto’s is Philippolis – Die oudste nedersetting in die Vrystaat ’n fees vir die oog. Prof. Jaap Steyn gee sy indrukke van Jens Friis, voormalige redakteur van Bloemnuus, se boek oor sy geboorte- en grootworddorp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.