Hy was die draaiboekskrywer en regisseur, en hy speel ook die hoofrol in die rolprent Liewe Lisawat Donderdag (14/02) landwyd begin speel.
Die oud-Bloemfonteiner Hendrik Cronje het Dinsdag (05/02) by Runners Emporium in die Prellerplein-winkelsentrum gesels oor dié eerste van vele rolprente en projekte waaraan hy en sy broer, Johan, nou werk.
Hendrik, bekend om rolle in die TV-sepies 7de Laan en Villa Rosa, sê hy wou nog altyd stories vertel. Dit is wat hy en Johan met hul nuwe produksiemaatskappy Kompanjie Stories wil regkry.
Hendrik sê die terugvoering wat hulle tot dusver oor die rolprent gekry het, is baie positief. Hy sê sy ouers, Danie en Sarina, wat hier in die stad woon, het dit ook geniet – wat hopelik daarop dui dat hul geslag ook daarby aanklank vind.
Omdat hy die draaiboek geskryf het en dus die karakters in sy kop gehad het, was dit vir Hendrik baie lekker om te sien hoe dié karakters lewe kry in bekende akteurs soos Zane Meas (Tom) en Albert Maritz (Frans).
Hendrik sê hy het baie stories in sy kop en hulle werk reeds kliphard aan ’n tweede rolprent,Relatief jonk, wat teen einde van die jaar uitgereik gaan word.
Johan sê dit is nie so maklik om Liewe Lisa te beskryf nie.
“Die storie is nogal ingewikkeld en ons glo dit gaan mense boei tot die einde,” meen hy.
Johan was in 2000 ’n matrikulant aan Grey-kollege en was ’n groot atleet.
Hy hou die Suid-Afrikaanse rekord in die 1 500 m en die myl.
Hy het in 2004 as deel van die Suid-Afrikaanse span aan die Olimpiese Spele in Athene deelgeneem en was in 2013 op die wêreld-kampioenskapsbyeenkoms in Moskou die bronsmedaljewenner in die 1 500 m.
Hy het gewerk as beleggingskonsultant en batebestuurder voordat hy hom by Hendrik aangesluit het om Kompanjie Stories te begin.
Hendrik (matriek 2002) sê dit was ’n groot uitdaging om tegelykertyd regisseur, redigeerder en akteur te wees, en hy het dag en nag gewerk, maar hy het dit gedoen met ’n lied in die hart.
“Ek doen wat my gelukkig maak.”
) Liewe Lisa begin Donderdag by Epic Cinemas in Northridge Mall en by Ster-Kinekor in Mimosa Mall draai.