Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Cheetahs reik uit
John Smit (links, oud-Springbokkaptein) en Helgard Müller (oud-Vrystaatkaptein). Foto: Johan Pretorius

Die Cheetahs en van die grootste name in die Suid-Afrikaanse rugbybedryf het Sondag (05/07) ’n hand bygesit om kospakkies vir hulpbehoewende gesinne te vul.

Dit is gedoen as deel van die #RugbyUnites-liefdadigheidsveldtog.

Dié projek van die Suid-Afrikaanse Rugbylegendes-organisasie (Sarla) is oorspronklik met die samewerking van die Leeus begin. Sarla het ál die rugbyunies uitgedaag om deel te neem en Sondag was dit die Curriebeker-wenners, die Cheetahs, se beurt.

Die rugbymanne het blitsig onder meer brood, blikkieskos, pasta en suiker in trollies in die Spar-super­mark in Langenhovenpark gelaai.

Die uitdaging was om soveel moontlik sakke binne sowat twee uur te vul.

Spelers het die inkopies in pare gedoen en die produkte by die aangewese betaalpunte laat oplui. Daarna is dit gesorteer en iets van elk is in winkelsakke gepak.

Komberse is ook geskenk.

Van die Cheetahs wat Sondag (05/07) by die uitdaging betrokke was, is hier van links Dries Swanepoel, Eric Colyn (fisioterapeut), William Small-Smith en Reniel Hugo.

Dié uitdaging het later soos ’n geoliede masjien verloop. In ’n stadium het die produkte met die sortering só in Ruan Pienaar, kaptein van die Cheetahs en veteraan-Springbokskrumskakel, se rigting gevlieg dat dit na ’n sportsoort gelyk het.

Naas Botha, legendariese oud-Bok-losskakel en nou ’n Bloemfonteiner, het ook ’n paar rugby-aangeë geoefen toe hy komberse vir Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, gooi.

Gavin Varejes, Sarla se president, en Elton Jantjies, kaptein van die Leeus, was ook teenwoordig.

Rhyno Smith en Louis van der Westhuizen.

Volgens Tanya Harvey, wat in Sarla se raad dien, is daar tot 300 kospakkies ter waarde van ongeveer R100 000 gevul.

Saam met Sarla word die veldtog deur Richmark Holdings en Cell C geborg en Spar het korting van 10% op die inkopies gegee.

Geld vir die veldtog word ook by backabuddy.co.za/rugby-legends-feeding-initiative ingesamel.

Botha, wat saam met sy dogter Lee-gre, ’n leerling aan Eunice High School, aan die uitdaging deelgeneem het, het die borge bedank.

“Dit gaan nie oor enige van ons nie – dit gaan oor die mense wat die pakkies ontvang. Dis ’n klein bydrae wat ons almal tot iemand se geluk kan lewer.”

Nog bekendes wat opgedaag het, is Helgard Müller, André Venter en John Smit.

Die pakkies word aan die Be the Difference-stigting geskenk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.