Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Covid-19 deeglik in ons midde
Alda Fourie

Namate die getal mense in Bloemfontein wat Covid-19 kry die hoogte in skiet, is dit lankal nie meer “daar ver” nie.

Talle inwoners moes die afgelope tyd hoor dat hulle Covid-positief is en dat afsondering vir 14 dae hul voorland sou wees.

Soos baie ander sê Alda Fourie van Xcellenté Business Solutions dat sy regtig geen idee het waar sy die virus opgedoen het nie.

“Boonop is die res van my gesin steeds gesond en moes ek my in die huis van hulle afsonder,” sê sy.

Alda het op Dinsdag 14 Julie simptome begin ervaar. Sy het gehoes en haar keel was seer. Haar koors was bo 39 °C en sy het haar dieselfde dag nog by Van Rensburg-patoloë se deurry-toets­sentrum in Westdene laat toets.

“Binne 24 uur het ek die uitslae gekry dat ek positief is en het ek my in my huis geïsoleer. Ons was baie versigtig en het alles ontsmet waaraan ek geraak het.

“Gelukkig het my man, Danie, en die kinders nie in hierdie tyd die virus opgedoen nie.”

Benewens die kuggie, was haar longe seer wanneer sy diep asem haal, maar sy het nooit benoud gevoel nie.

“Die eerste ding wat deur my gedagtes gedwaal het, was wie ek moontlik kon besmet het. Ek het dadelik almal gebel met wie ek sedert die vorige Donderdag kontak gehad het.

“Ek het regtig geen idee waar ek die virus opgedoen het nie en het sedert vlak 3 van die inperking minder ver­gaderings as gewoonlik gehad, en net wanneer dit nodig is.”

Sy sê wat die ergste is, is dat ’n mens nie soos met griep of ’n ander bekende siekte weet hoe dit gaan uitspeel nie.

“Gelukkig het ek nie baie siek geraak nie, maar dit was steeds ongemaklik en ek het in die begin kouekoors gehad.”

Die prokureur Pieter Skein en sy vrou, Carlize, het Maandag (27/07) begin werk ná 14 dae se isolasie nadat hulle positief vir die virus getoets is.

Net soos met Alda, weet hulle ook nie waar hulle die virus opgedoen het nie.

Carlize sê sy sukkel gewoonlik hierdie tyd van die jaar met sinus.

“Ek het gehoor een van die simptome is dat ’n mens nie kan ruik en proe nie en toe ek ’n suur­lemoen eet en geen smaak proe nie, het ek onraad vermoed.”

Sy het haar op Sondag 12 Julie by patoloë laat toets en toe haar toets positief is, het ook Pieter en hul seun Handré (gr. 12 in Grey-kollege) hulle laat toets. Hul uitslae was ook positief.

Carlize sê hulle het nie een koors gehad volgens die meter wat sy vir die kantoor gekoop het nie.

Hulle het ook ’n oksimeter gekoop om hul suurstofvlakke te toets, maar dit het nooit gevaarlik laag gedaal nie.

“Pieter het wel lyfseer gehad en ek ’n krapperigheid in die keel en ’n kopseer wat nie wou wyk nie.”

Sy sê sy glo dit is onvermydelik dat baie mense die virus gaan kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.