Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Die slagtings wat die wêreld ruk

“Dit was absoluut verskriklik om te beleef.”

Só het ’n ooggetuie onlangs gesê nadat twee polisiemanne blykbaar deur ’n voormalige polisiebeampte in Kimberley doodgeskiet is en hyself toe deur ander polisielede neergevel is.

Die ooggetuie verwoord stellig menigeen se gevoel wat hulle in so ’n situasie bevind.

Die wêreld word immers sporadies in sy fondament geruk wanneer die polisie in die uitvoering van hul werk deur ’n enkele skieter gedood word, des te meer nog as etlike lede in die slag bly.

Dit roep in herinnering ’n “massamoord” in die kleine wat in 1927 in Natal (vandag KwaZulu-Natal) plaasgevind het. Min mense weet vandag dat ’n oud-Bloemfonteinse speurder, Gerald Collins Ashman, daarby betrokke was. Wat hierdie moord-orgie so laat uitstaan, is die feit dat vyf polisiemanne, waaronder genoemde speurder as bevelvoerder, aan die hand van een onstabiele persoon in die slag gebly het.

Daarbenewens is ander mense ook dood, insluitend die moordenaar se vrou.

Ashman het in 1903 hom by die polisie in Bloemfontein aangesluit waar hy hom tot hoofspeurder van die C.I.D. (Criminal Investigation Department) opgewerk het.

Ten tyde van die Eerste Wêreldoorlog het Ashman in 1915 die Kristallnacht-tafereel in die stad beleef. Smeulende anti-Duitse sentimente is op die spit gedryf toe Bloemfontein hoor dat die Britse passasierskip RMS Lusitania deur ’n Duitse duikboot gesink is en talle passasiers verdrink het. Duitsland is oor die wêreld heen veroordeel.

In Bloemfontein nie minder so nie. Gesinne van Duitse afkoms se ondernemings en besittings, waaronder die bekende Fichardt-winkel, is in ’n uitbarsting van sinlose geweld nie ontsien nie.

Ashman was uit die stand van sy posisie een van die etlike polisielede en speurders wat ná die tyd in die saak moes getuig.

In die kollig van dié 1927-moord was die plaas Potter’s Hill en die nabygeleë klein Natalse grensdorpie Charlestown tussen Newcastle en Volksrust.

Op hierdie plaas het Stephanus Andries Johannes Swart, bekend as ’n gewelddadige en onvoorspelbare man en wat simptome van paranoïese skisofrenie geopenbaar het, geboer. Sy vrou Annie, ’n weduwee Eksteen met verskeie plase op haar naam, was 30 jaar ouer as hy.

Daar was juis geskinder dat dit ’n liefdelose huwelik was wat om geld gedraai het.

Met sy geringe opvoeding het Swart se lewenspad ’n prentjie van ekstreme gemoedskommelinge, vervolgingswaan en vyandiggesindheid teenoor gesag geskilder, wat nie deur die jare getemper is nie.

Nadat hy 18 maande tronk- straf vir ’n wrede aanranding op ’n familielid uitgedien het, was hy nog meer oortuig dat die regstelsel om persoonlike redes teen hom gekant was en hy sy eie potjie sou moes krap om te oorleef.

Ná sy vrylating het Swart na Potter’s Hill teruggekeer waar Annie, wat intussen van hom vervreem was, gewoon het. Gou was daar drama.

Vroeg in 1927 is hy beskuldig van bloedskande en Annie en haar plaasbestuurder, J.C. Visser, was gereed om teen hom te getuig. Wetende dat lang tronkstraf sy voorland kon wees, het hy hulle met die dood gedreig.

Weens sy onstabiele karakter, het hulle hom ernstig opgeneem en besluit om te swyg.

Al twee het die plaas inderhaas verlaat, Annie op pad na Potchefstroom.

Was dit die ongelisensieerde voertuig wat Swart einde April 1927 bestuur het en die gevolglike 10 sjielings boete wat hom laat knak het? Waarskynlik.

Die dag voordat hy hiervoor in die hof moes verskyn, ry hy oor na die buurplaas van P. Lourens en vuur uit die bloute ’n skoot af – gelukkig mis – op sy plaasbestuurder, G. Roets, toe hy die boer nie daar gevind het nie.

Hierna was die gort gaar met vanselfsprekend ’n lasbrief vir poging tot moord teen hom, en Swart wat hom gereed maak vir die grand finale.

Hy het vergeefs probeer om sy vrou op te spoor om haar verder te dreig en op pad terug na Potter’s Hill steek hy sy motor naby die plaas aan die brand en loop verder. Geen ryding van hom moes in die hande van die “vyand” val sou hulle hom aankeer nie!

Deurdrenk van wraakgedagtes teen die owerheid het Swart homself met ’n oorgehaalde geweer in die plaashuis toegesluit en hom verknies dat almal teen hom is. Hy het sy prokureur, G. Maasdorp, ontbied om sy sake in orde te kry.

Skrikkerig vir wat kon voorlê omdat hy sy kliënt se geestelike versteurdheid ken, het Maasdorp tog die plaas besoek, soos versoek deur die polisie, om Swart oor te haal om in die omstandighede nie onverstandig op te tree nie.

Die arme prokureur moes trouens tot laatnag na die boer se tirade oor die onreg van die lewe luister.

Swart se laaste wense wat hy aan die prokureur oorgedra het, is op 28 bladsye neergeskryf.

Dié ontstellende voorgenome selfmoord is ook vervat: “Bloed vir bloed – lewend sal julle my nooit kry nie, tot die laaste patroon, wat ek vir myself bêre, sal ek julle afmaai. Skend of verbrand my lyk, maak net wat julle wil daarmee, maar sorg dat hierdie verklaring van my die nuus haal en dat die eerste minister, generaal Hertzog, ’n afskrif kry.”

Toe die plaaslike bevelvoerende polisie-offisier, einste kapt. Ashman, hiervan verneem het, en sy verdere pogings om Swart vreedsaam te laat oorgee, skipbreuk gely het weens die boer se verwoede dreigemente dat hy oortreders op sy grond gaan skiet, was dit vir die polisieman tyd vir daadwerklike optrede om ’n bloedbad te vermy.

Op 6 Mei 1927, voor dagbreek, het kapt. Ashman, tesame met tien polisiemanne, die plaashuis omsingel om met sonsopkoms toe te slaan.

Maar Swart het hulle sien aankom, die huis swaar gewapen verlaat en hom in digte mis in die landery gaan skuilhou.

Hy het nadergesluip. En die polisie behoorlik verras.

Die eerste man wat in die slag gebly het, was konst. Feucht.

Ashman het hom vir mediese hulp terug dorp toe gestuur. Die bevelvoerder het besef die skrif is aan die muur – verdedig julself en skiet Swart op sig, het hy beveel.

Hierna het Swart nog twee polisielede geskiet.

Nadat hy hoofkonst. Mitchell en konst. Crossman neergevel het, het hy nader gestap en weer tromp-op gevuur om seker te maak hulle is dood. Sers. Grové is ook noodlottig gewond.

Swart was ongetwyfeld bevoordeel deur die digte mis en sy kennis van die plaas.

Ashman en sers. Van Wyk het ook voor die loop van Swart gesterf, laasgenoemde afgemaai met drie ekstra rondes in sy liggaam.

Inmiddels was daar kortstondige kruisvuur tussen die oorblywende polisielede en die moordenaar.

Met Ashman se Webley-diensrewolwer gevoeg by sy arsenaal, wat ook ’n Mauser-geweer en Browning- outomatiese pistool ingesluit het, het Swart besluit dinge raak vir hom te warm, en het te perd van die plaas ontvlug.

Wat toe gebeur het, is bisar, maar dit versterk die siening dat Swart ’n aggressiewe psigopaat was.

Op pad na die dorp het hy, om ongeveer 08:00 met die oggendlig wat verskerp, in ’n gemoedelike bui by buurman S.J.M. Swanepoel aangery, ’n koppie koffie gevra, gespog met sy nagelate bloedspoor van vyf lyke en vermakerig die Webley rondgeswaai.

Hy neem nou sy slagting na Charlestown en sluit op Volksrust met selfdood af, het hy die verbaasde en hoogs-benoude buurman doodluiters meegedeel.

Die oomblik toe die skieter vertrek, het Swanepoel, wit geskrik, te perd gejaag om die polisie te waarsku, net om deur ’n swart man tegemoet gery te word met ’n nota waarin die moordenaar belowe, as hy sou oorleef, om terug te keer en Swanepoel dood te maak.

Op pad na Charlestown het Swart vir Fanny Knight, sy vrou se dogter by haar eerste man, en die plaasbestuurder, Roets, in ’n rytuig langs die pad raakgeloop.

Hy het al twee doodgeskiet. Hierna was sy visier gestel op die Van Vuuren-huis aan die buitewyke van die dorp waar sy vrou, Annie, haar intussen tuisgemaak het en waarvan hy te hore moes gekom het.

Hulle het die aantog van Swart van die stoep aanskou. Dit was om en by 09:00.

Bang oor die uitdrukking op sy gesig, het die Van Vuurens en twee ander vroue gevlug en hulle al biddende in die verlate polisiekantoor – onthou almal was uit op die Swart-saak – toegesluit.

’n Dapper Annie was blykbaar bereid om haar vervreemde man te konfronteer. Sy het met haar lewe geboet – een skoot in die voorkop, die ander in die bors.

Ná hierdie bloedige daad wou Swart die dorp verlaat.

By die hoofpad het hy sy uitgeputte perd aan ’n heining vasgemaak. Sy poging om ’n motor te kaap deur daarop te skiet en die voorruit stukkend te slaan, het nie geslaag toe die bestuurder, saam met ’n ander insittende, voet in die hoek gesit en voortgejaag het nie.

Teen hierdie tyd was die hele distrik in rep en roer oor die skrikbewind.

Die polisie en die boere het in ’n gesamentlike optrede uiteindelik vir Swart op dieselfde dag naby die Swanepoel-plaas ingehaal.

Verskillende weergawes bestaan oor wie almal op hom losgebrand het. Met koeëls wat oor hom fluit, het Swart in die veld langs die pad platgeduik en met kapt. Ashman se diensrewolwer ’n koeël deur sy eie kop gejaag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.