Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dis ’n gemors!
Vullissakke wat inwoners van Pellissier Saterdag (20/06) uit protes teen swak diens­lewering voor die Glaspaleis neergesit het.

Ontstoke inwoners van Pellissier wie se vullis vir drie weke agtereenvolgens nie verwyder is nie, het Saterdagoggend (20/06) onder leiding van die gemeenskapsaksie Trots Pellissier hul vullissakke voor die Bram Fischer-gebou (Glaspaleis) gaan aflaai.

’n Wyksraadslid, Pieter Ploos van Amstel, sê die vullis lê in sekere dele van die woonbuurt al vir weke.

“Inwoners betaal vir dienste wat hulle nie kry nie, daarom het hulle hul vullis hier afgelaai om protes aan te teken.”

’n Inwoner van Navalsig wat ook sy sakke kom aflaai het en nie sy naam genoem wil hê nie, sê vullis staan al langer as vyf weke voor sy huis.

“Ons moes al plaagbeheer inroep omdat allerlei plae in die omgewing begin uitbroei het.”

Die vullissakke wat uit protes neergesit is, is teen Sondag deur die metro verwyder.

Intussen moet die konsepbegroting, wat tariefverhogings bo inflasie voorstel, voor Woensdag (01/07) goedgekeur word, en ’n vergadering daarvoor was teen druktyd Woensdag (24/06) steeds nie belê nie.

DA-raadslede ten tyde van ’n nuuskonferensie in die vervalle tuin van die Bloemfontein-stadsaal, wat nog onder konstruksie is. Van links is Hardie Viviers (DA Mangaung-koukusleier), Tjaart van der Walt (DA-lid in die Mangaung-beplannings- en ekonomiese ontwikkelingskomitee), David Masoeu (DA Mangaung-voorsitter) en Hans Britz (DA Mangaung-woordvoerder vir die finansies-komitee).Foto’s: Lientjie Mentz

Tjaart van der Walt, DA-lid wat in die Mangaung-beplannings- en ekonomiese ontwikkelingskomitee dien, het Maandag ’n griefskrif met die ondersteuning van 9 381 inwoners aan amptenare van die Mangaung-metro gestuur.

Van der Walt sê die dokument is 400 bladsye dik, met meer as 50 bladsye vol van inwoners se kommentaar oor die beplande tariefverhogings en reuse-salarisse van top-amptenare.

Die dokument sou Maandag amptelik aan amptenare oorhandig word, maar die Glaspaleis was gesluit omdat een van die amptenare wat daar werk positief vir Covid-19 getoets is en die gebou ontsmet moes word.

Tydens ’n nuuskonferensie van die DA by die vuil en vervalle Poelanong-gedenkmuur voor die Bloemfontein-stadsaal, het raads­lede die ANC-beheerde metroraad aangemoedig om vanjaar ’n “omgee”-begroting goed te keur.

Hans Britz, DA-raadslid en woordvoerder van die finansies-komitee, sê as daar al ooit ’n geleentheid vir die metro was om te wys dat hy inwoners se belange eerste stel, is dit nou die tyd.

“Die DA is van mening daar is ruimte in hierdie begroting om toegewings te maak om inwoners in hierdie moeilike tye van Covid-19 te help. Ons vra daarom dat daar nou geen verhogings op erfbelasting en sanitasie gehef word nie. Ons verstaan sekere tariewe moet styg, maar daar is ruimte om inwoners tegemoet te kom.”

Hy sê ook as die metro skuldinvordering goed toepas en gepaste kostebesparingsmaatreëls instel, heelwat meer geld vir uitgawes beskikbaar sal wees.

Ten tyde van die nuuskonferensie het Hardie Viviers, DA-koukusleier, sy kommer uitgespreek oor die min tyd wat vir kommentaar van die publiek beskikbaar is.

Die metro het Donderdag (18/06) ’n aanbieding met ’n vraag-en-antwoordsessie oor die begroting vir die jeug gehou, maar ’n vergadering met raadslede oor die begroting is vroeër die week gekanselleer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.