Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dit wat was, dit wat is . . . alles voordat lente kom

Saterdagoggende in Bloemfontein. Dit is wanneer die Covid-inhokking ’n mens mos regtig vang. Net wan- neer die son die winterbyt verjaag is dit 08:00 en staan ons in die sogenaamde vorige normaal in ’n bonte mengelmoes – gereed vir die park- of Cityrun-wegtrek.

Of jy nou op Naval Hill, in Pellissier, Heidedal of Langenhovenpark is, jy is saam met jou tribe. En wat ’n lekker spulletjie: Daar is die ernstige voorhardlopers met hul jaagasems, vasbyttande en vinnige afkyk na hul supermens-horlosies. Dan die fikse baba-ouers met die fopspeensuigende slapers wat in ’n stootkarretjie by jou verbygestoot word.

Die atlete van die toekoms, hul gene reeds gereed en nou begin hul ouers die omgewing voorberei vir nog ’n dux-drawwer.

Die voormalige marathon-atleet wat heel voor staan by die wegtrek, maar een kilometer later al stappende die middeljarige boepens-krimpende drawwers ophou.

En die stappers. Sommige stil en vasberade en ander al kletsende met skinderkamerade. Tussendeur vleg die honde-mense. Die ronde omie met die poedel, die modieuse nuwe moeder met die joga-broek en die handsakhond. Die rifrug wat skaamteloos hurk terwyl sy eie- nares maak of sy nie die slagysterstel-proses sien nie. Die hele spul bondel voort om uiteindelik ge- skandeer te word met die wete dat ons die Saterdag goed begin het. Binnekort gaan ’n e-pos kom wat bewys lewer dat ek die beste van my Saterdag gemaak het. Dit gaan aandui hoeveel keer ek in die ver- lede hier was, en hoe vinnig ek vandag was.

Nou kan ’n mens mos sonder skuldgevoelens by die boeremark inval. Die aanvoorwerk vir ’n fil- terkoffie en pannekoek of brêkfisvetkoek is gedoen. Geen skuldgevoelens nie. Die kalorieë is reeds verbrand. En ’n mens koop im- mers groente vir die week. Natuurlik ’n vinnige boekeloer by die tweedehandse stalletjies om in ’n laatoggend aroma-bad te gaan deurblaai. Die onweerstaanbare kleurvolle vars blomme. Biltong vir diegene wat hulle reeds regmaak vir ’n middag se sport voor die kassie. En soms kan ’n mens sleur- stappend verdwaal in verbeelding tussen portretrame, antieke huis- raad en die kleurryke karakters wat saam met jou sluipkyk.

En so drafstap die Saterdagoggende verby.

Altans, so was dit.

En toe kom die dekselse virus.

Eers was die strate mensloos, hondloos en hopeloos. Toe die toegewing. Tussen 06:00 en 09:00 soggens is daar skielik drawwers. Geïsoleerde enkelinge. Vreemd ge- masker. Kil handhawers van so- siale afstand – want ons is bang iemand gaan hoes – of vinnig asemhaal. En dalk, net dalk, die on- sigbare virus in ons asem aanblaas. Maar daar is ’n nuwe kameraderie – gesterk deur die gekke beperking van ’n 5 km-radius. So jy sien darem net jou eie area se opgehoopte swart sakke wat opgestapel getuig van die mislukkende moed- brekende munisipaliteit.

Oë bly gevestig op horlosies – want nugter weet wat die polisie met ons kan doen as hulle ons ná nege op straat vang – ek bedoel, ons almal weet mos van daai arme pa in die Kaap wat se kind strand-toe gehol het – en ’n mens weet nie of jy in die tronk kan land nie, want die regering het juis plek gemaak deur ’n klomp regte kri- minele vry te laat – wie sê daardie plekke word nie vir die ná-nege-drawwers gereserveer nie?

En uiteindelik word ons vrygelaat. Vlak 3. Net betyds, want die wintersoggende het ’n klomp wils- krag gesteel en die geledere van enkeldrawwers wat maskerwuif met vriesvingers het begin uitdun.

Maar selfs as vlak-3-vryes is daar iets wat skort. Die gees van saamdraf. Die karakters langs die pad. Die gulheid van die boeremark.

Ons het iets verloor. Daarvan ge- tuig die leë winkelgrafte van entre- preneurs, die stiller verkeer, en die onsigbaarheid van glimlagte agter maskers. Sommige blameer die regering. Ander is dankbaar dat die kurwe vir eers plat gehou is, want soos wat ons geleidelik die balans tussen die nuwe en die ou normaal probeer vind, word die wêreldwye virusgrafiek dag vir dag erger.

Maar die seisoen het gedraai, die dae word langer.

Die lente is op pad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.