Selfs wanneer die stad nie onder beurtkrag gebuk gaan nie, is daar saans ’n gebrek aan lig waar straatligte nie werk nie. Dit is die geval in woonbuurte en boonop op hoofroetes met gevaarlike padtoestande en skerp draaie.
Prof. Fief van der Merwe, DA-raadslid, sê een van die dinge wat die DA-raadslede die meeste irriteer, is die toestand van die straatligte en die pyne wat daarmee gepaard gaan om Centlec, die metro se kragverspreider, te oorreed om dit te herstel. Hy meen raadslede moet stukkende straatligte tot vyf keer aanmeld voordat iets daaraan gedoen word.
Hy sê as dit vir raadslede so ’n uitdaging is om amptenare in die hande te kry, verstaan hulle dat inwoners soms tot ’n halfuur moet sukkel voordat iemand die telefoon beantwoord.
Van der Merwe sê ’n paar DA-raadslede het Centlec se hoofde oor die toestand van die straatligte gaan spreek. Volgens die amptenare het hulle nie geld om gloeilampe te koop nie en moet hulle soms maande wag vir geld wat aan hulle toegeken word.
- Lele Mamatu, woordvoerder vir Centlec, sê alle straatligte word steeds deur Centlec se span werkers reggemaak. Hy sê dit is nie die geval dat net ligte op die hoofpaaie reggemaak word nie. Daar is glo ook genoeg geld om die straatligte te herstel.