Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eekhoring in Kasakstan het Bfn-blik

In die stad Almaty in Kasakstan kyk ’n beeld van ’n eekhoring van 12,5 m neer op die mense doer onder – ’n eekhoring met die mooiste wakker oë geskep deur die Bloemfonteinse kunstenaar Marius van Vuuren.

In Sjanghai toring ’n soortgelyke vosstruktuur bo die nasionale kunsmuseum uit – ook die handewerk van Van Vuuren.

Dié opdragwerke het gespruit uit die reuse-kameelperd van 8 m wat Van Vuuren en ’n span van Bloemfontein in 2016 vir die Vrystaat Kunstefees opgerig het.

Alex Rinsler, ’n Britse feesvervaardiger, is die konseptualiseerder.

“Dié projek was ’n waterskeiding in my loopbaan. Ek het geweet dit is wat ek wil doen – ek wil openbare kunswerke skep, ek wil nie meer kunslesse gee nie,” sê Van Vuuren.

Hy het as dosent by die Motheo-kollege bedank en nog nie weer teruggekyk nie.

Volgende jaar sal hy gestalte help gee aan ’n yslike vark wat in Manchester, Brittanje, opgerig gaan word as simbool van die Chinese Nuwejaarsviering.

Van Vuuren is twee jaar gelede geprys vir die kameelperd se verleidelike wimpers en byna lewende oë wat geen feesganger kon miskyk nie. Dié kameelperd het vir die duur van die fees op Hoffmanplein in Bloemfontein se middestad gepronk.

In Almaty was dit weer Van Vuuren se taak om die eekhoring se oë te ontwerp en te skep.

Hy sê verstedeliking het meegebring dat Almaty vir eekhorings net so ’n tuiste as vir sy mensinwoners is. Eerder as om hulle te verjaag, het die stadsvaders besluit om veilige plekke vir hulle te vind.

Nou kyk die mense nie af op die diere nie; die eekhoring kyk af op die mense.

Van Vuuren sê ’n span van 27 mense, insluitend ’n vervaardiger, argitek en ingenieur, het die eekhoring in “ ’n rekordtyd van drie weke” gebou. Dit was nadat ’n staalstruktuur opgerig is waarvoor Van Vuuren die instruksies op Skype deurgegee het.

“Houtblaaie is met laser gesny om die kontoere van die eekhoring te vorm. Dit is oor die staalstruktuur geplaas. Toe het nog net die ‘pels’ gekort, talle lae strooi van 20 cm dik. Die oë het ek van hars gemaak.”

Die kunswerk dien ook as ’n toeriste-aantreklikheid vir Almaty. wat besig is om ’n totale metamorfose te ondergaan.

In Sjanghai het Van Vuuren met die herbou van ’n reuse-strooivos gehelp. Dit het as ’n “voël-hotel” vir ’n bedreigde spesie gedien en, volgens Van Vuuren, het die voëls inderdaad daarin nes gemaak.

Die “lewensduur” van die kunsprojekte is sowat twee jaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.