Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eeu gevier
Danie Langer (hoofleier van die Voortrekkers) oorhandig 'n eerbewys vir 75 jaar diens aan die Voortrekkers aan oom Josias Swanepoel. By hom is sy vrou, tannie Marietjie.

As deel van Die Voortrekkers in die Vrystaat se 100ste bestaansjaar­vieringe is ’n nuwe monument Saterdag (10/10) op die terrein van die Oorlogsmuseum van die Boere­republieke en Vroue­monument onthul.

Willie Engelbrecht (gebiedsleier van Die Voortrekkers) by Jacques Müller, wat die Saai-monument namens die FAK gemaak het.Foto’s: Lientjie Mentz

Die Saai-monument, wat deur Jacques Müller gemaak is en deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aan Die Voortrekkers geskenk is, is op dié geleentheid openbaar.

Wat vandag as die Werk-en-Wen-kommando by die Hoërskool Sentraal (destyds die Voorbereide Tegniese Skool) bekend staan, is in 1920 as die voorloper van Die Voortrekkers gestig.

Dit kom nadat dr. CF Visser hom sedert 1913 vir ’n Afrikaner-jeug­beweging beywer het.

Maralda Meyer (adjunk-gebiedsleier van die Vrystaatse Voortrekkers) by tannie Koba Schabort (103) wat die feesfakkel aangesteek het.

Tannie Coba Schabort (103), wat ná die amptelike stigting van die beweging op 30 September 1931 op die trappe van die Vierde Raadsaal as een van die eerste Voortrekkers ingelyf is, het Saterdag die feesfakkel aangesteek.

Dié fakkel gaan nou digitaal deur die gebied reis.

Sy is ook met die Vader Visser-eerbewys vir diensbaarheid vereer vir die meer as 90 jaar wat sy in haar hart ’n Voortrekker is.

Dr. Danie Langer, hoofleier van Die Voortrekkers, sê Schabort is ’n voorbeeld van iemand wat nog oor die toekoms van die Afrikaner passievol is.

“Die Voortrekkers is gebore uit die kinders wat die konsentrasiekampe oorleef het. Hulle het wilskrag, kultuurtrots en die reg op voortbestaan in die karakter van hul nageslag gesaai.”

Die Saai-monument is gegrond op ’n brief wat ’n onbekende vrou op 4 Augustus 1902 ná die Anglo-Boereoorlog aan haar pa, wat in Ceylon in ballingskap was, geskryf het.

In die brief vertel sy haar pa dat sy die vorige dag ’n emmer vol koring gesaai het sodat hulle met die boerdery kan voortgaan wanneer hy van Ceylon terugkeer.

Müller sê die stuk graniet wat die vrou se rok vorm, is deel van die graniet waarmee die Voortrekker­monument in Pretoria gebou is.

“Ons was bevoorreg dat ons van die graniet wat nog op die terrein is, vir dié beeld kon gebruik.”

Corrie Scheepers, hoofbeskermvrou van Die Voortrekkers en voormalige gebiedsleier, het op die geleentheid gesê die Afrikaner moet voortgaan om te saai soos dié beeld simboliseer.

“Ons moet geloof, hoop en liefde saai. Mag ons op die kulturele saaiwerk van die afgelope 100 jaar bou.”

AfriForum het inheemse bome aan al die Voortrekkerkommando’s in Bloemfontein geskenk, en een van dié bome, ’n olienhoutboom, is op die geleentheid geplant.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.