Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Erfenisgoed maak ons geskiedenis onsterflik

Die nuus dat die historiese trein­stasie in Potchefstroom Saterdag deur ’n brand verwoes is, en dit boonop so kort voor Erfenisdag, het verskeie herinneringe aan soortgelyke verliese opgeroep.

Nog vars in die kollektiewe geheue van Potchefstroom is die NG moederkerk wat in 2007 deur ’n brand in puin gelê is, en ’n soortgelyke lot het ons Oos-Vrystaatse buurman Bethlehem se treinstasie in 2017 getref.

Die herstelwerk aan die kerk het langer as drie jaar geduur – dieselfde tyd wat tot dusver daaraan bestee word om die Bloemfonteinse stadsaal in ere te herstel nadat dit in ’n onstuimige tyd in die stad se onlangse geskiedenis gebrand het.

Die Potchefstroomse trein­stasie, wat verlede jaar ’n eeu oud was, is die tweede historiese gebou in dié stad wat binne enkele maande in ’n brand vernietig is.

Die ou generaalshuis wat vroeg in die eerste dekade van die 1900’s as woning vir die Britse bevel­voerder van die weermagbasis in Potchefstroom gebou is, het in Julie afgebrand. Dit is in die 1980’s as ’n erfenisgebou verklaar.

Die vernietiging van so ’n baken in ’n gemeenskap en die verlies van die geskiedkundige waarde wat dié soort gebou beliggaam, ontlok om heel verstaanbare redes hewige emosionele reaksie by mense.

Ná die vernietiging van die generaalshuis is ou griewe weer gelug dat die departement van openbare werke, aan wie dié gebou blykbaar behoort, dit nie na behore onderhou het nie. Verder is die munisipaliteit skuld vir die gebeure gegee omdat hy hom na bewering doof gehou het vir klagtes dat lang gras rondom die gebou ’n brandgevaar inhou.

Die munisipaliteit staan op sy beurt grootoog met ’n reguit arm en die wysvinger uitgestrek na die eienaar van die perseel – die Witrand- psigiatriese hospitaal.

Die hospitaal? Hy wys terug na die departement.

Die Bloemfonteinse treinstasie het tot dusver nog gespaar gebly, hoewel kommer kan bestaan dat ’n vlammelot hom ook bedreig nadat 24 treinwaens in Januarie by Transnet se instandhoudingsperseel vernietig is. In dié geval was die skuldiges, ’n groep brandstigters, maklik identifiseerbaar.

Dié treinstasie, uit die laat 1800’s, is op sigself ’n baken in die stad en die geskiedenis, veral tydens die Anglo-Boereoorlog.

Praat ’n mens met iemand nadat so ’n ding gebeur het, die vernietiging van dié soort gebou, volg sonder uitsondering die een of ander vertelling oor hoe hulle in hierdie of daardie jaar iets daar beleef het.

Hulle skets vir jou ’n geskiedenis, ja, maar nie werklik van ’n plek of ’n tydperk nie. Luister jy mooi, besef jy hulle gee jou ’n klein geskiedenis van hulself.

Of dit nou aan verval en verwaarlosing, of iets meer dramaties soos ’n brand toe te skryf is – feit bly staan die gemeenskap voel die verlies van so ’n baken aan eie lyf, en dit is nie net die ouer garde wat hierby belang het nie.

Die gr. 11-leerling Danielle Ceronio het verlede maand in Bloemnuus vertel hoe sy bewustheid oor dié soort geboue oor die land heen sou wou bevorder, en die gedagte agter haar kunswerk van die Arthur Nathan-swembad gedeel: dat selfs ’n vervalle gebou herinnering bewaar.

Hoewel Bloemfonteiners met reg al kon wonder oor die stadsaal se herstel en of dit tot ’n stilstand gekom het, siende dat daar verlede jaar Oktober laas oor vordering berig is, kan hulle gerus wees dat dié sieraad van die stad gou weer in gebruik geneem sal kan word.

Die verklaring vir hoekom die voltooiingsdatum uitgestel moes word, is so eenvoudig soos dat die pandemie tussenbeide getree het. Die afrondingswerk word wel afgehandel.

Dat sulke geboue bewaar, onderhou en ná rampe herstel en restoureer word, is van onskatbare waarde, maar dalk nie om voor die hand liggende redes nie.

Hierdie soort geboue as erfenisgoed is nie vir mense belangrik omdat dit die verlede, landsgeskiedenis of gebeure onsterflik maak nie. Dit maak ons lewensgeskiedenis, ons self, onsterflik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.