Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Fees raak ál groter

Bloemfontein word nou ’n mark waar mense – plaaslik en van die buiteland – Afrika se werke in die kunste kom beskou.

So meen dr. Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees. Dié fees het Sondag (07/07) geëindig.

“Ons raak ’n bymekaarkomplek waar idees tussen plaaslike en oorsese kunstenaars en ander mense wat in die bedryf werk,uitgeruil word met die oog op moontlike samewerking in die toekoms,” sê Peach.

“Waar ons verlede jaar sowat 30 internasionale kunstenaars gehad het, het dit vanjaar tot nagenoeg 100 gegroei. In 2015 was hier net drie. Enkele skrywers wat voorheen hier was, het ook op hul eie koste teruggekeer omdat hulle die fees so geniet.

“Een van hulle, Mira Feticu van Holland, het selfs gratis ’n werksessie kom aanbied. Dan was twee van die grootste dramaturge van Italië en Holland, onderskeidelik Marco Calvani en Lot Vekemans, ook hier.”

Volgens Peach was die feesdirekteure van die KKNK, Woordfees, Aardklop en Innibos, asook van ’n fees in Mexiko en Frankryk, hier as deel van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief. Hulle is aan die internasionale kunstenaars bekend gestel, en het oor moontlike samewerking op hul feeste gepraat.

Peach meen nie die Vrystaat Kunstefees brei te wyd uit nie.

“Net omdat mense nie alles te siene kry nie, beteken nie ander mense het nie daarby uitgekom nie.”

Die gehalte van die Vrynge het ook vanjaar lof ontvang.

“Baie van die sukses is danksy Michael Garbett, die koördineerder.Kunstenaars vertrou hom om ’n platform te skep wat hulle welkom laat voel en wat sensitief vir hul behoeftes is.

“Die aantal Vrynge-aanbiedinge het van 70 tot 85 gegroei. Daar was selfs drie internasionale produksies – twee van Nigerië en een van Brittanje.

“Die Woordfees het vanjaar begin, en Aardklop beplan dieselfde. Dit is lekker dat ons so ’n sirkel by die Afrikaanse feeste kon begin,” sê hy.Een van die vernaamste doelwitte met vanjaar se fees was volgens Peach om ’n omgewing te skep waar verskillende kunsvorme nog nie voorheen ervaar is nie.– Ruan Bruwer

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.