Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Fynproewers genooi

Verruklike wyne, verbluffende kunswerke en smaaklike kos vir smulpape is vanjaar in oorvloed op die Vrystaat Kunstefees se program.

Vanjaar het feesorganiseerders ’n verdere dimensie aan die fees gekoppel, met Mondvol, ’n afdeling van die fees wat spesifiek op die fynproewer gemik is.

Mondvol is ’n opwindende geleentheid wat die beste wyn, kuns en kookkuns in ’n skouspelagtige omgewing vir een, glorieryke week verseker. Dit beoog om ons ryk erfenis en kultuur te vier deur mense uit verskillende agtergronde saam te bring om die fyner dinge in die lewe te geniet.

Ricardo Peach, feesdirekteur, sê kos is so ’n intieme deel van ’n kultuur en hulle wou feesgangers ook die geleentheid gee om dit binne ’n kreatiewe konteks te ervaar.

“Watter beter manier is daar om ’n ander se kultuur te ervaar as deur kos? Hier word kultuur in ware gourmet-styl aangebied.”

Die Lekker Bekkers, Jamandi en Machiel Bekker, wenners van My Kitchen Rules Suid-Afrika, kook die land aan die brand met hul kreatiewe huiskokvernuf.

Mense staan tou om in hul opwip-restaurante landwyd te eet en feesgangers kan vanjaar ook saam met hulle kuier. Dit beloof om ’n aand vol verrassings, ongelooflike kos en humor te wees.

Dan is daar die geleentheid om saam met Chris Koch, die bekende Afrikaanse whisky-kenner, deur die sprokie van Skoonlief en die donker, aardse ondier te reis. Kom proe ’n paar Skotse enkelmoutwhiskies en leer meer van die herkoms en verskillende karaktertrekke wat elke whisky uniek maak. Net mense ouer as 18 mag deelneem.

Nog ’n eerste op die fees is Die Vrystaat Langtafel. Hiermee sluit die kunstefees op ’n hoogtepunt af met ’n Sondagmiddagete op die Summerwood-landgoed.

Die werk van bekende kunstenaars sal op die Teaterbystandsfonds (TBF) se kunsveiling onder die hamer kom. Met die veiling kan die publiek bydra tot die volgehoue ondersteuning van die kunstenaars. Die TBF verskaf ook bestendigheid aan hul gesinne en afhanklikes, sou hulle te sterwe kom.

Die veiling gaan met ’n skemerkelkie op Vrydag 13 Julie om 17:00 gepaard.

Mense wat nog skenkings wil doen, kan ’n e-pos na atie.kamper@volksblad.com stuur. Kaartjies kos R150.

Fees van die sintuie is vir boekwurms, met Erns Grundling, Hennie van Coller en Anthea van Jaarsveld wat in gesprek sal wees, terwyl Jannie du Toit, Lochner de Kock en Nicol Viljoen die musiek sal verskaf. Die sjef Suné Niemand sal die kos maak.

Hierdie ontbyt bied feesgangers die geleentheid om puik kos en wyn te geniet, na musiek van hoë gehalte te luister en boonop ’n skrywer van nader te leer ken.

Ander restaurante op die feesterrein is De Oude Kraal in die Scholtzsaal, Jack & Jill in die ATKV Boeke-oase, Plenty in die Odeion, Zizi’s in die Wynand Mouton en Traumerei in die kykNET-Scaena-foyer.

Vir meer inligting, sien die feesprogram op www.vrystaatkunstefees.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.