Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Honderd kersies vir 100 lewensjaar

“Kom ouma, nou moet ons blaas!”

So is tannie Annie Bothma op Dinsdag 3 Desember op haar 100ste verjaardig in die Siesta-aftreeoord aangemoedig om 100 kersies op kolwyntjies uit te blaas. Gelukkig het sy hulp van kleinkinders en agterkleinkinders vir dié taak gehad.

Ouma Annie is in 1919 gebore en was een van ’n tweeling met nog vyf sibbe. Sy het by ’n tante op ’n plaas naby Vanwyksdorp grootgeword waar sy hard gewerk het.

Haar een kleindogter, Colleen Venter van Kaapstad, vertel ouma kon al op 9 jaar ’n bord kos kook en op 13 jaar ’n skaap slag. “Sy was altyd ’n doener – as oupa nie gou genoeg die huis geverf het nie, dan het sy self die verfkwas gegryp.”

Tannie Annie is op 14 Februarie 1937 (nog lánk voor dit as Valentynsdag bekend gestaan het) met Johnny Bothma op Merweville getroud. Hulle het aanvanklik op ’n plaas naby Vanwyksdorp geboer voordat hulle na Prins Albert verhuis het. Hier het ouma Annie vir jare as hulpverpleegster by die sentrum vir bejaardes gewerk.

Vier kinders is uit die huwelik gebore – Frikkie, Marie, Hannes en Cobus, maar al vier is reeds oorlede.

Twee van haar kleinkinders, Colleen en haar broer, Christo Venter van Bloemfontein, en hul families het die verjaardagvieringe in Siesta bygewoon. Tannie Annie het nege kleinkinders en 13 agterkleinkinders.

Sy het in 2004 saam met Colleen en Christo se ma, Marie, na Bloemfontein verhuis en nadat Marie oorlede is, het tannie Annie in 2015 in Siesta kom woon.

Colleen sê sy was tot Mei nog heel onafhanklik, maar nadat sy geval en haar femur gebreek het, het sy baie verswak.

Die kleinkinders en kinders wat byeengekom het om tannie Annie se 100ste verjaardag te vier, het saam met ander inwoners van Siesta vir haar ’n partytjie gehou.

Saam met ouma Annie se verjaardag het daar heerlike reën oor Bloemfontein uitgesak. Hanna Geyser van Siesta sê die vorige keer toe dit so lekker gereën het, was op ’n ander inwoner se 106de verjaardag. “Ek hoop nie ons moet wag dat iemand by Siesta 100 jaar en ouer word om reën te kry nie,” het sy gelag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.