Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hoof groet ná 28 jaar
Dawie Hugo, uittredende skoolhoof van die Lettie Fouché-skool, met die kunswerk deur Martin Schwella wat die personeel Vrydag (18/09) op ’n afskeidsgeselligheid aan hom oorhandig het.Foto: Lientjie Mentz

Hy het soveel kosbare herinneringe aan sy 28 jaar as hoof van die Lettie Fouché-skool.

Só sê Dawie Hugo wat Woensdag (30/09) as skoolhoof van dié skool vir verstandelik gestremde leerlinge aftree.

“Dit is die gemoedelikheid by die skool wat ek die meeste sal mis. Ongeag jou bui wanneer jy by die skool aankom – alles voel binne ’n uur sommer goed.”

Hy sê hy laat die skool in uiters bekwame hande.

“Dit is ’n sterk personeelkorps van alle ouderdomme.”

Onder Hugo se bestuur het die skool van krag tot krag gegaan. Nie net is baie nuwe afdelings en gereelde geldinsamelings gevestig nie – die skool het ook ’n hand in ’n nuwe kurrikulum vir soortgelyke skole wat moontlik einde volgende jaar in gebruik geneem sal word.

Hugo het in 1972 aan die Hoërskool Daniëlskuil gematrikuleer, waarna hy in 1973 aan die destydse Bloemfonteinse Onderwyskollege (BOK) studeer het.

Ná sy weermagopleiding het hy sy onderwysloopbaan by die spesiale skool in Ladybrand begin voordat hy by die Dr. Bohmer-skool ’n draai gemaak het. Daarna was hy byna tien jaar lank aan die Martie du Plessis-skool verbonde. Hier was hy later ook adjunkhoof.

“Ek het vroeër jare baie geoefen, en toe ek hier op die pad na die botaniese tuine oefen, het ek altyd gewens ek kan by Lettie Fouché skoolhou.”

In 1992 het hy toevallig gehoor dat die skoolhoofpos geadverteer word.

“My aanstelling hier was regtig ’n bestiering,” sê hy.

Hy is maar die derde skoolhoof sedert die skool in 1953 gestig is.

“Ek was ’n jong skoolhoof toe ek hier begin het, en die jongste personeellid. Ek het gedink baie meer beheer en dissipline is nodig. Uiteindelik het ek besef die manier waarop hier skoolgehou word, is nie verkeerd nie – dit is net anders. Ek het in daardie jare baie lesse geleer wat my vandag nog bybly.”

Die skool het sowat 280 leerlinge van vier tot 18 jaar oud.

“Dit is hartseer dat my laaste jaar by die skool deur Covid-19 onderbreek is. Ek het geweet ek gaan binnekort aftree, maar was nie gereed vir hierdie vroeë ruskans nie,” sê hy.

Weens die pandemie was die skool net meer as vyf maande lank gesluit.

Die skool se groot geldinsamelingsprojekte kon ook nie vanjaar plaasvind nie.

“In my eerste jaar het die beheerliggaam aangekondig dat die skool die jaar met ’n verlies van R116 000 afsluit. Die volgende dag het ons ’n brief ontvang dat ’n erflating van R116 500 aan die skool nagelaat is!”

Sedertdien het projekte soos die jaarlikse gholfdag, ’n vrouedag en die gewilde manne-aand ontstaan.

“Die kinders se kosbare sin vir humor sal ek beslis mis. Geen onderwyser laat ’n geleentheid verbygaan om vir my te kom vertel as ’n kind weer iets skreeusnaaks in ’n klas kwytgeraak het nie.”

Hugo sê hy gaan steeds op ’n manier by die skool betrokke bly – veral met die reël van die manne-aand.

“Ek wil net baie dankie sê aan die wonderlike gemeenskap van Bloemfontein en die boere wat ons skool so mooi ondersteun. Lettie Fouché se naam is sag op die publiek se ore.”

Dié geliefde skoolhoof beoog om met sy aftrede ’n bietjie meer tyd in die jagveld en langs die viswaters deur te bring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.