Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Horlosies met stories laat egpaar tik-tik-tik

Tik-tik-tik. So klink dit op die stoep, in die kombuis, woonkamer en eetkamer, en op vele ander plekke in die huis van Marie Fourie en haar man, Gustav Bigaignon, in Bays­water.

Die egpaar besit 72 horlosies in alle vorme en groottes.

Marie vertel haar passie om horlosies bymekaar te maak, het in 2007 begin nadat haar eerste man oorlede is en sy saam met ’n vriendin na Nieu-Seeland getoer het.

Daar het sy die oulikste horlosies gesien en uiteindelik ’n hele krat vol horlosies en ander ware gekoop en huis toe gebring.

Deur die jare het talle vriende vir haar horlosies as geskenk gegee.

Nadat sy en Gustav in 2010 getroud is, het dié passie ’n ander lewe gekry en hulle het altwee begin om interessante horlosies te maak. Marie vertel hulle het ’n nut gekry vir talle ou langspeel­plate en “seven singles” en muurhorlosies daarmee gemaak.

Net om anders te wees, het hulle selfs ’n paar gemaak wat anti-kloksgewys draai en ’n mens goed deurmekaar maak. Marie sê dié deurmekaar horlosies is baie gewild in kroeë.

Gustav maak ook houthorlosies en Marie het begin om ou koekie- en lekkergoedblikke in horlosies vir die kombuis te omskep.

Elke horlosie het ’n storie en sy kan besoekers ure lank besig hou met elkeen se besonderse verhaal.

Marie sê hulle maak nogal graag horlosies as trou­geskenk vir vriende omdat dié horlosies simbolies is van ’n nuwe tyd wat vir die egpaar aanbreek.

’n Mens moet egter nie te veel daarop staatmaak om vinnig die tyd in die huis vol horlosies te bepaal nie – Marie sê dit is ’n onbegonne taak om 72 horlosies aan die gang én reg gestel te hou.

Sy sê hulle het nou liewer opgehou om horlosies te versamel of vir die huis te maak, want die plek aan die mure het opgeraak.

Daar is egter heeltemal genoeg horlosies aan die mure en op rakke sodat besoekers sonder twyfel kan weet wat dié twee mense laat tik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.