Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoners hef buurt op
Bestuurslede van die Universitas-woonbuurtvereniging is van links Pieter Schalk van Wyk (tesourier), Hennie van Niekerk, Johan Coertzen, Schalk van Vuuren (voorsitter) en Sylvia Burger (sekretaresse). Ander bestuurslede wat nie op die foto is nie, is Tjaart van der Walt, Helene van Niekerk, Denise Viljoen (vise-voorsitter), Alex de Kock, Diek Conradie, Marthinus Jordaan en Veronica Verwey.Foto: Lientjie Mentz

Terwyl vullis in Bloemfontein se strate ophoop en talle inwoners moedeloos is oor dienslewering wat daagliks versleg, spring al hoe meer woonbuurtverenigings in om self hul omgewing te verbeter.

“Huispryse in Fichardtpark, waar die Fichardtpark-woonbuurtvereniging die omgewing netjies en veilig hou, se huispryse styg,” sê Schalk van Vuuren, voorsitter van die Universitas-woonbuurtvereniging.

“Dit terwyl huispryse in Universitas die afgelope tyd met R20 000 tot R50 000 gedaal het.”

Van Vuuren het Donderdag (08/04) op dié vereniging, wat reeds sedert middel 2019 op informele vlak die woonbuurt netjies hou, se eerste amptelike vergadering gepraat.

“Ek het begin om die woonbuurt skoon te hou, want ek bly nie in ’n varkhok nie,” sê Van Vuuren.

Mettertyd het nog vrywilligers by hom aangesluit om Saterdae verkeerseilande en parkies skoon te maak en slaggate op te vul.

Uiteindelik is ’n komitee gestig ná die formele vorming van die vereniging in November verlede jaar.

Ds. Hannes du Plessis, leraar by die NG kerk Universitas-Wes, sê almal het hom afgeraai om eiendom in Universitas te koop toe hy twee jaar gelede die pos by dié kerk kry.

“Tog het ek besluit ek wil hier tussen my gemeentelede woon – en ek was nog nooit spyt nie. Universitas is ’n wonderlike woonbuurt en hou baie voordele in, soos die nabyheid van goeie skole en kleuterskole, die universiteit en die middestad.”

Van Vuuren sê hy glo dié woonbuurt sal beslis verbeter en veiliger word met goeie samewerking van inwoners.

“Daar is 2 745 huise in die woonbuurt, so daar is genoeg inwoners wat die vereniging kan ondersteun,” sê Van Vuuren.

Johan Coertzen, een van die bestuurslede, sê die eienaars van studentehuise gaan ook by die vereniging betrek word.

“Dit is tot hul voordeel om aan die vereniging te behoort.”

Die vereniging glo dat goeie samewerking met eienaars van studentehuise voordele vir die hele woonbuurt sal inhou.

“Studente van Unilofts het reeds laat weet hulle wil op Mandela-dag sypaadjies verf. Dit maak ons opgewonde om te weet hulle wil ’n bydrae maak om die woonbuurt op te hef,” sê Van Vuuren.

Die vereniging het reeds vyf van die agt parkies in die woonbuurt se speeltoerusting geverf.

“Ons gaan binnekort die laaste drie parkies se speeltoerusting ook verf, dan lyk almal sommer weer spoggerig.”

Raadslid Tjaart van der Walt, lid van die bestuur, reken dit is merkwaardig wat die vereniging in ’n kort tyd reggekry het. Hy sê daar word ook nou aan stukkende straatligte aandag gegee, maar daar is nog baie vandalisme en ongelukke in Paul Krugerrylaan wat pale beskadig.

Van Vuuren sê danksy skenkings het die vereniging al genoeg tuintoerusting om verkeerseilande in die groot strate soos De Bruynstraat netjies te hou.

“Die samewerking van inwoners is egter regtig belangrik. Talle mense gooi steeds hul vullissakke voor hul bure se huis of op verkeerseilande. Daar is ook mense wat hul bourommel op verkeerseilande stort. As hierdie soort praktyke voortduur, maak dit die vereniging se werk tot niet.”

Die vereniging maak ook gebruik van Torings van Hoop se skoonmaakspan om groot verkeerseilande soos dié in Paul Krugerrylaan netjies te hou.

  • Rig navrae oor die vereniging aan Sylvia Burger by 083-215-1644.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.