Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoners ruim op

Die vullis wat oral in Bloemfontein ophoop en morsige openbare plekke laat inwoners rooi sien. Boonop skiet die Mangaung­metro se begroting vir 2019-’20 drasties tekort wat basiese onderhoudswerk betref.

Volgens ’n DA-raadslid, Tjaart van der Walt, is die begroting vir die metro se afdeling parke en begraafplase heeltemal onvoldoende.

“Daar is ’n tekort van R44,7 miljoen op die begroting. Die afdeling moet 54 poste vul en benodig 138 bykomende werknemers om behoorlik te kan funksioneer. Die voertuie en toerusting vir die middestad en weste­like woonbuurte waarop die balju in 2017 beslag gelê het, moet ook nog vervang word,” sê Van der Walt.

Intussen het inwoners oral in die stad met skoonmaak-aksies begin om die hope rommel op te tel.

Die bestuurspan van AfriForum Sektor 3 het Saterdag (06/07) hope gemors onder die brug by Benaderylaan in Gardeniapark opgeruim as deel van ’n groter skoonmaakprojek wat hulle vir Julie beplan.

Manie de Klerk, takvoorsitter: gemeenskapsveiligheid van Sektor 3, sê dit was die begin van ’n maandlange aksie in ’n poging om vullis in Wilgehof, Gardeniapark, Universitas, Universitas-Rif en Parkwes op te ruim.

Die groepie van sowat tien het eers onder die brug skoongemaak, en toe al langs die spoorlyn in Aalwynlaan.

“Dit is skokkend om te sien hoeveel rommel mense strooi en net eenvoudig nie omgee nie,” sê De Klerk ná hul skoonmaak-aksie. Hy sê hulle wou graag die hele Aalwynlaan tot teen die N1-snelweg skoonmaak, maar die rommel was só baie dat hulle net ’n derde van die dag se skoonmaakteiken bereik het.

Elzabé de Klerk, AfriForum-komiteelid gemoeid met omgewingsake, sê hierdie was slegs die eerste van vier Saterdae waarop AfriForum Sektor 3 die woonbuurte se vullis wil opruim. “Ons daag alle inwoners van dié vyf woonbuurte uit om ons die volgende drie Saterdae te help deur voor hul huise, op sypaadjies en middelmannetjies en naby hul huise en in hul strate gemors op te tel.”

Ook Bloemskou-personeel het Woensdag 3 Julie ingespring en Curielaan voor die skouterrein skoongemaak.

Elmarie Prinsloo, Bloemskou se uitvoerende hoof, sê hulle wil nou minstens maandeliks só ’n skoonmaak-aksie onderneem.

Sy het ander instellings in die omgewing uitgedaag om ook betrokke te raak. Virgin Active, Tollas Total-motorhawe, Hinterland, CTM, Builders Warehouse en die Showgate-sentrum het intussen aangedui dat hulle aan die skoonmaak-aksie gaan deelneem.

Nog ’n opruim-aksie is Woensdag deur Jean Gryzenhout van Brain Block Tutering aangebied toe sowat tien van die kinders in sy groep Pikkiepark in Pikkie de Villiersstraat in Universitas skoongemaak het.

Die NG kerk Universitas-Wes se Rooikerk-skoonmaakgroep daag inwoners uit om Saterdag (13/07) betrokke te raak by ’n skoonmaak-aksie van die talle verkeers­eilande in De Bruynstraat, Van Schalkwykstraat en President Paul Krugerrylaan. Dié skoonmaak-aksie begin om 09:00.

  • Rig navrae oor die Universitas Aksiegroep se skoonmaakprojek aan Schalk van Vuuren by 082-412-4175. Rig navrae oor AfriForum se skoonmaakprojek aan Elzabé de Klerk by 078-025-6099. Die Mangaung-metro het Woensdag (10/07) aangekondig dat ’n groot skoonmaak­-aksie vandag (11/07) by die N8-ingang na die stad onderneem word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.