Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoners tree op oor stortingsterrein

Ontstoke inwoners wat vrees vir hul gesondheid en die waarde van hul eiendomme naby die noordelike stortingsterrein het Maandag (07/01) in die kerksaal van die NG kerk Hugenoot vergader.

Die susters Adriëtte en Mariëtte Botha het die vergadering gereël om die kwessie te bespreek van rookwolke wat die afgelope jaar gereeld oor die noordelike stortingsterrein hang weens onwettige brande en warm as wat bly smeul.

Die vergadering is deur 50 lede van die gemeenskap en belang­hebbendes bygewoon. Munisipale amptenare is wel genooi, maar het verskoning gemaak.

Adriëtte sê aanvanklik het hulle gedink die omstandighede by die noordelike stortingsterrein is net tydelik, maar dit duur nou al langer as ’n jaar voort en die digte rookwolke wat gereeld oor die noordelike deel van die stad hang, skep groot gesondheidsrisiko’s vir mens en dier. Daar was brande en digte rook voor en ná Kersfees.

’n Inwoner wat Maandag se vergadering bygewoon het, sê sy ly haar lewe lank aan asma en sedert die rook gereeld in die lug hang, het haar longfunksie erg verswak.

Inwoners het op die vergadering gevra hoekom die stortingsterrein nie geskuif kan word nie. Hulle meen voorgestelde aksieplanne soos ’n ekstra heining om die terrein wat deur die Mangaung-metro beplan word om veiligheid te verbeter en brandstigters uit te hou, sal nie die saak oplos nie.

Werner Horn, die DA se parlementêre lid vir Mangaung, het op die vergadering gesê die ideaal is die verskuiwing van die terrein, maar dit is ’n baie duur proses.

Hy sê inwoners kan ’n siviele hofgeding teen die munisipaliteit aanhangig maak, maar dit kan baie duur raak en jare lank sloer.

Patric Klaas, bestuurder van Park Avenue (die meenthuiskompleks reg langs die stortingsterrein), sê inwoners kla baie oor die rook en slegte reuke. Hy sê dit is belangrik dat ’n aksieplan deur gemeenskapslede bedink word om die munisipaliteit te dwing om op te tree.

’n Komitee is op die geleentheid gekies en daar is besluit om binnekort ’n groot vergadering te hou waarop soveel lede van die publiek as moontlik betrek word, asook munisipale amptenare.

Volg die debat op die Facebook-blad Help us close the Northern Landfill of bel Adriëtte by 083-216-2440 om betrokke te raak.

Hou Bloemnuusdop vir die datum waarop die openbare vergadering gehou gaan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.