Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jaagtog om bakkie te kry
Nic Gordon
Nick Gordon by die 1993-Hilux-bakkie wat eke keer terugkom huis toe.

Kyk, boewe moet weet jy steel nie dié bakkie nie.

Die toneel wat hom afgespeel het nadat ’n dief op Maandagaand 8 Junie Nick Gordon se kleurryke 1993-Hilux SRX-bakkie gesteel het, was so reg uit ’n Hollywood-rolprent.

Ongelukkig is dit ook bewyse dat misdaad in die stad weer toeneem.

Nick vertel hy en sy vrou, Fransie, het vinnig by familie­ gestop toe sy voertuig voor ’n huis in Wilgehof gesteel is.

“Ons was skaars daar, toe hoor ek my bakkie in die straat en besef dadelik iemand steel dit,” sê hy.

“Ek het skoon my vleis van my lyf af geskrik,” vertel Fransie.

“Ek het dadelik my vriendin Corlee du Toit, wat deel van die AfriForum-buurtwag is, gebel.”

Du Toit het dit op die buurtwag se radio-netwerk aangemeld.

Nick, wat die afgelope tyd erg aan gordelroos ly, sê hy het gevoel hy word flou. Du Toit het gereël dat ’n ambulans na die huis gaan, waar hy behandel is.

Intussen het drie mans wat gehoor het dat die bakkie gesteel word, Edward Gordon, Johan Boshof en Boelie van Niekerk, in twee voertuie gespring en die dief agternagesit.

Johan vertel hulle het die bakkie deur Wilgehof en in Victoriaweg al die pad tot in Batho gevolg.

“Oom Nick se bakkie het sommer so glad oor die hobbels in die pad gegaan terwyl ons teen daardie spoed ons koppe teen die bakkie se dak gestamp het.”

In Batho het die gesteelde bak- kie in die agterstrate verdwyn en die soekgeselskap het teruggekeer huis toe. Danksy AfriForum se radionetwerk wat ook die polisie bereik, het die polisie twee uur later die gesteelde bakkie gevind.

“Gelukkig het die bakkie nie baie petrol in gehad nie en het dit sonder petrol gaan staan,” sê Nick.

“Teen verlede week Woensdag kon ek die bakkie by die polisie gaan haal en het hy weer sy plek in my motorhuis ingeneem. Daar is net bietjie skade aan die bestuurderskant se deur, maar dié sal ek sommer self laat regmaak.”

Marshall Gordon, sy seun, sê hy het onmiddellik nadat die bakkie gesteel is ’n kennisgewing daarvan op sy Facebook-blad geplaas en dit is blitsig deur meer as 1 000 mense gedeel.

“Baie mense ken my pa se unieke bakkie en was dadelik ontsteld toe hulle hoor dié bakkie is gesteel. Ons is so dankbaar vir almal se hulp en omgee, en AfriForum en die polisie se blitsige optrede.”

Dit is die tweede keer dat diewe dié bakkie – wat Nick kort nadat hy dit in 1993 gekoop het, laat oor- verf en oorgebou het – probeer steel het.

Die vorige keer was in 2000 in Oos-Londen. Gordon vertel dit het ook ’n wilde jaagtog afgegee, met die diewe wat op die polisie geskiet het en die polisie wat die boewe in die bakkie geskiet het.

Gordon se kleinkind Cain Crous (20) gaan eendag dié voertuig, wat reeds 344 764 km op die odometer het, erf. ’n Foto van Cain, wat Nick altyd in die bakkie hou, was tot sy verligting steeds daar ná die voorval.

  • Die AfriForum-buurtwag het op Saterdag 6 Junie die eerste keer weer patrollie begin ry.

Manie de Klerk van Sektor 3, waaronder Wilgehof val, sê dit was ’n nasionale versetpatrollie omdat buurtwagte tydens vlak 3 nie toegelaat is om patrollie te ry nie. Die ander instansies wat saam met AfriForum aan die patrollie deelgeneem het, sluit veiligheids­instellings, mediese dienste en private buurtwagte in.

“Intussen is egter toestemming gekry en ons ry weer patrollies om die woonbuurt veilig te hou.”

Du Toit sê AfriForum se buurtwag is daar om almal te help.

“Hoe meer mense aansluit, hoe beter, maar die Gordons is nie deel van die buurtwag nie en tog het ons geensins geskroom om hulle te help nie. Danksy AfriForum se radio-netwerk kon ek vinnig mediese personeel op die toneel kry toe oom Nick dit nodig gehad het.”

De Klerk sê by 80% van die voorvalle soos ongelukke waarby hulle die afgelope twee weke ge- help het, was die misbruik van alkohol ’n groot faktor.

Misdaad het beslis toegeneem sedert die begin van vlak 3 van die inperking op 1 Junie begin het, meen hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.