SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Kerk vier 50 jaar

’n Kerk wat diep gewortel is in die Heidedal-gemeenskap het Sondag (24/11) sy 50ste bestaansjaar gevier.

Die hoeksteen van die Katolieke gemeente Christus die Koning is in Maart 1969 gelê nadat die vier families, Solomon, Stone, Smith en Dauds, besluit het om ’n erf te bekom waarop hulle hul eie kerk kon laat bou. Oom Clive Solomon vertel dat die gemeenskap R47 000 ingesamel het om die gebou te laat oprig.

Vader Hendrik Cuirass was die eerste priester van die gemeente. Oom Clive sê die aanvanklike gemeente het uit sowat 500 lidmate bestaan.

Twee vroue van die Vrouebond, Sarah Nuwejaar en Veronica Jackson, het in 1984 na België gegaan. Die Vrouebond het ná die besoek gereeld besendings klere gekry wat vir kerkfondse verkoop is en ook aan minder bevoorregte mense in die gemeenskap geskenk is.

Die eerste kerkraad het bestaan uit wyle Joe Solomon, wyle Norman Smith, wyle Eddie Stone, wyle Anna Magerman en oom Clive wat in daardie stadium die jongste lid van die raad was.

In 1991 is vader Cuirass opgevolg deur vader Albin Hahn en ses leke-predikante is aangewys wat hom met sy pligte kon help.

Vader Hahn is opgevolg deur vader Immanual Rakaki in 1999 en hy is opgevolg deur vader Patrick Towe. Sedert 2016 is vader Gracious Nombe die priester.

Die vier biskoppe wat diens gedoen het sedert die stigting van die kerk is biskoppe Patric Fitzgerald, Petrus Buthelezi, Buti Thlagali en Jabulani Nxmalio.

Die kerk is een van ses kerke in Heidedal wat elke tweede Sondag van die maand byeenkom vir ’n gesamentlike diens. In 2015 is die 30ste bestaansjaar van die gesamentlike dienste gevier.

Van die bekendes wat die kerk deur die jare besoek het, is Nelson Mandela en sy gevolg wat kort voor sy inhuldiging as president in 1994 toevallig in Heidedal stilgehou het by ’n nabygeleë onderneming. Oom Clive vertel Madiba het nader gestap toe hy die kerkklok hoor lui en hy het hom by die hek verwelkom. Daar was ongelukkig nie vooraf reëlings getref nie en nadat Madiba die priester ontmoet het, is hy en sy gevolg daar weg.

Patrick Lekota het ook gereeld eredienste by dié Katolieke kerk bygewoon.

Oom Clive is passievol oor die kerk en die lang geskiedenis wat dit ook vir hom en sy gesin het. Hy en sy vrou, Mavis, het in 2015 met hul 50ste huweliksherdenking ’n spesiale sertifikaat van gelukwensing van die Pous van die Katolieke Kerk ontvang. Vader Nombe het dit in 2016 in die kerk aan hulle oorhandig.

Oom Clive sê daar is deesdae ongeveer 1 000 lidmate in die kerk.

“Ons kerk moet tog net nie doodgaan soos baie ander nie,” spreek oom Clive sy passie vir dié kerk uit.

Vir hom en die ander families wat so ’n lang pad saam met Christus die Koning-kerk stap, is dit deel van hul lewe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.