SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Kersoratorium gratis in Odeion aangebied

’n Kerskonsert met “die mooiste Kers­oratorium” gaan Sondag (01/12) die Odeion Skool vir Musiek (OSM) en die Vrystaatse simfonieorkes (FSSO) se laaste aanbieding van die jaar wees.

“In die gees van Kersfees het ons besluit om dit gratis aan te bied,” sê Jan Beukes, OSM-hoof.

Die uitvoering begin om 16:00 in die Odeion, met Josef Rheinberger se Suite vir Orreltrio en Strykers, op. 149, waarna die Oratorio de Noël, op. 12, van Saint-Saëns volg.

Selfs vir Beukes, ’n orrelis wat die orrelrepertorium deur en deur ken, is dié werk ’n nuwe ontdekking.

“En wat ’n aangename verrassing – dit is ’n pragtige werk en hoogs verteerbaar,” sê hy.

Die oratorium is gekomponeer vir vyf sangsoliste, ’n gemengde koor, strykers, orrel en harp. Aangesien die instrumentasie blasers uitsluit, kan die klank met kamermusiek vergelyk word, wat bydra tot ’n pastorale stemming.

Hoewel die werk uit tien be­wegings bestaan – ’n prelude en nege vokale bewegings – is dit korter as die Barok-oratoriums en baie meer liries.

Al die soliste is van die OSM-sangskool, naamlik Kimmy Skota (sopraan), Teresa de Wit (mezzo­sopraan), Mariëtte Pitout (alt), Albertus Engelbrecht (tenoor) en Thesele Kemane (bariton). Beukes sal voor die orrel wees, die OSM-sangstudente vorm die koor en die orkes word deur die Odeion-strykkwartet gelei.

Die werk is die eerste keer op Kersdag 1858 in die bekende Madeleine-kerk in Parys uitgevoer, waar Saint-Saëns die orrelis was. Hy het self die Latynse teks uit die Ou en Nuwe Testament, die Psalms, Evangelies en die Katolieke se Kersliturgie saamgestel.

Rheinberger se suite het ook ’n pastorale karakter en is dus ’n gepaste keuse vir die program, sê Beukes.

Om ’n orrel in kamer­musiek te gebruik is seldsaam, maar omdat Rheinberger komponis én orrelis was, het hy geweet hoe om die klanke van die orrel by die soetvloeiende aard van die suite te laat pas.

Anmari van der Westhuizen (tjello) en Samson Diamond (viool) vorm saam met Beukes die orreltrio, terwyl lede van die FSSO en die OSM-stryker­studente die orkes vorm.

Alexander Fokkens dirigeer albei werke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.