Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kersvader kom vroeg vir sowat 800 mense

Om hul kinders te sien glimlag.

Dít is vir Bloemfonteinse ma’s die kosbaarste van die liefdadigheidsorganisasie Guardian and Angel se jaarlikse Kerspartytjie.

Saterdag (07/12) by die NG kerk Estoire buite Bloemfontein was daar hope glimlaggies, veral op die springkasteel waar geverfde gesiggies gebons het. Ook in die versierde treintjie wat deur ’n vierwielmotorfiets gesleep is.

Kersfees het vroeg vir gesinne gekom wat dalk andersins nie die feestydgevoel sou kon ervaar nie.

Hier is kos- en lekkergoedpakkies en geskenke uitgedeel terwyl die luidsprekers vibreer, ook met ’n plaaslike sanger agter die mikrofoon, en die kinders wat speel.

Altesaam 250 gesinne het groot houers nie-bederfbare kos ontvang. Sowat 800 mense het die dag bygewoon, sê Hester Bekker van Guardian and Angel, een van die organiseerders.

Sy vertel verskeie instansies het bygedra om aan die sowat 300 kinders hier en 1 000 kinders van verskillende organisasies elk ’n spesiale Kersgeskenk moontlik te maak. Dit sluit B&H Paneelkloppers, personeel van die Life Rosepark-hospitaal en Fish World in.

“Dit is ons grootste Kerspartytjie nog wat die afgelope ses jaar aangebied is,” sê Bekker. Sy sê dié partytjie het van 50 tot 250 gesinne gegroei. “Ons pak die kospakkies om die gesinne deur Desember te dra. Elkeen ontvang ook ’n geskenk – ons kinders is baie bederf.” Sakke klere is ook uitgedeel.

Dit is die glimlagte wat haar tevrede stel. “In ’n stadium van my lewe het ek self swaargekry, dus weet ek waaroor dit gaan. Vir hulle sal ek alles doen.”

Guardian and Angel het die afgelope drie maande skenkings, soos nie-bederfbare produkte en geld, vir dié dag ingesamel. Bekker sê die publiek en ondernemings in die stad is “wonderlik” vir hulle.

“Vir die kinders het ons ’n lysie vir elkeen se behoeftes opgestel. Dit is verkieslik van die skoolbehoeftes vir volgende jaar, sodat die mammas nie in Januarie sukkel nie. En ook toiletware. Mense kon ook ’n geskenkie of twee insit en as dit moontlik is, en ’n stelletjie klere.”

Juwele, dasse en pette is van die ander artikels in volwassenes se geskenkpakkies. Bianca van Wyk van B&H Paneelkloppers sê hulle het op 26 Oktober by ’n vlooimark by die Vrouemonument mense aangemoedig om geskenke saam te bring. Eindelik het almal by B&H gehelp om meer as 300 geskenkies te pak wat Saterdag uitgedeel is.

Vir Heila Kotzé is die beste deel om haar kleinkinders gelukkig te sien. Dit is die tweede jaar dat hulle dié partytjie bywoon. “Ons waardeer wat Hester-hulle vir ons doen en dit beteken baie vir die kinders.”

Talle ander ondernemings het die partytjie moontlik gemaak met geldelike en ander skenkings. Dit sluit in inwoners van Westerbloem wat 800 kolwyntjies gebak het en Ilze de Santos van die Shoebox-projek wat ook geskenke verskaf het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.