Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kewer val Bfn binne

Al is daar tot dusver net enkele gevalle in Bloemfontein wat op nasionale databasisse aangeteken is, raak die vernietigingswerk wat die stompkopkewer (Euwallacea whitfordiodendrus) in bome aanrig, waarskynlik reeds tot 400 bome of meer in die stad.

So het prof. Wijnand Swart, plantpatoloog verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, Maandag (13/05) gesê op ’n vergadering wat deur die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA) gehou is.

Hy sê die stompkopkewer en die swam (Fusarium euwallaceae) wat hy aan sy monddele dra, kom oorspronklik uit Asië.

Daar word vermoed dat die kewer deur middel van vrag­palette Suid-Afrika binnegekom het.

Koos Uys van Van der Lindelaan in Fichardtpark het op 30 Maart opgemerk dat daar saagsels onder sy Amerikaanse eshout lê en vermoed dat dit die werk van die kewer is.

Sedertdien het talle tuiniers oor die stad heen die skade van dié kewers en die gepaardgaande swam in bome in hul tuine gesien.

Japie de Villiers van Myburgh­straat in Fichardtpark het vier bome in sy erf wat duidelik die gaatjies en vlekke wys waar die kewer bedrywig is.

Hoewel tuiniers in Bloemfontein eers onlangs bewus geword het van die kewer, saai dit al geruime tyd groot verwoesting in boomryke stede soos Johannesburg. Hier probeer tuiniers met alles wat hulle in die hande kan kry, om die plaag uit te roei.

Swart sê egter daar is nog nie ’n geregistreerde, suksesvolle middel op die mark nie. Mense moet ook onthou dat ’n plaagdoder én ’n swamdoder nodig is om enigsins ’n impak te maak. Die kewer boor ’n ronde gaatjie in die boom se stam en dikker takke en die swam aan sy mond­dele begin dan in die hout versprei. Die swam breek die hout af en maak die hout sag vir die kewer se larwes wat daarvan leef.

Joubert van Vuuren van Bloemfontein Tree Felling sê hy sien nou daagliks ’n boom wat met die kewer besmet is.

Die enigste manier om die kewer uit te wis, is om die takke of hele boom wat besmet is, af te kap en te vernietig deur dit te verbrand of met ’n masjien in fyn deeltjies op te sny.

Dawie Coetzee van die Mangaung-metro se departement parke en begraafplase sê mense kan besmette hout na die stortingsterreine bring waar dit ook fyn opgesny moet word.

Die kewers, wat kilometers ver kan vlieg, beweeg nie rond as die temperatuur onder 12 ºC daal nie en hoewel hulle nou in die herfs minder aktief is, gaan hulle voort om die boom te vernietig.

Swart sê die kewer val inheemse en uitheemse bome aan en hoewel hulle nog nie hier die voorkoms van die kewer op kareebome gesien het nie, is dit wel al op olienhoutbome bespeur.

Hy sê dit is baie belangrik dat mense kennis neem van die probleem en ook voorvalle aanmeld.

Die FWA het onderneem om monsters wat mense na die kantoor bring, na die instellings wat registrasies doen, te stuur. Rig navrae hieroor aan Duart Hugo van die FWA by 082-789-4615.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.